Local newsNews

Egpaar vier 67 jaar van genade

Sommer met die intrapslag by Ben en Tokkie Venter se netjiese huis in 7de Straat in Mookgophong kan ’n mens die twee se liefde vir mekaar sien.

Die egpaar het op Saterdag 29 Januarie vanjaar 67 jaar van getroude lewe saam gevier.

Hulle is in 1955 in Louis Trichardt (nou Makhado) getroud en sê albei dat wedersydse respek en baie genade van die Here hulle in hul huwelikslewe gedra het.

Ben is op 27 September 1931 gebore en het op ’n plaas buite die destydse Pietersburg (nou Polokwane) groot geword.

“Ek was byna nege jaar oud toe ek vir die eerste keer na die plaasskooltjie, Vrederust, toe is en ek was nie hoërskool toe nie,” het hy laggend vertel.

Daardie jare was daar nie maklik vervoer nie en die plaas was ver van alles af. Hy het later op die Zebediela-landgoed gewerk en daarna by die paaie departement, soos dit destyds bekend gestaan het. Hy was tot met sy aftrede in 1991 (40 jaar later) in hul diens.

Ben en Tokkie Venter op hul troudag op 29 Januarie 1955.

Ben het vir Tokkie ontmoet toe hy rugby gaan speel het in Louis Trichardt waar sy korfbal gespeel het.

Tokkie is op 18 November 1934 net buite Naboomspruit (Mookgophong) gebore en het op die plaas Swartkloof grootgeword.

“Ons het nog altyd goed oor die weggekom. Respek is die wenresep vir ’n lang en gelukkige huwelik. ’n Mens moet naby aan die Here leef,” het Tokkie gesê.

Hulle het twee dogters en ’n seun en woon al 31 jaar in Mookgophong.

“My ouers het ons geleer wat ware liefde is en dit nog altyd uitgeleef,” het Martie Venter, hul dogter, met trots aan Die Pos gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button