Local newsNews

Weermagveterane verruil konflik vir gemeenskapsbehoeftes

Enigeen wat deel was van ’n oorlogsituasie is ’n lewende getuie dat kameraadskap, dissipline en beplanning ’n sentrale rol in oorlewing gespeel het.

Dit is ook faktore wat belangrik is om ’n gemeenskap op te bou.

Die Buyskop-eenheid, ’n geaffilieerde tak van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging in Bela-Bela, is in Mei 2021 by die Springbok Boma-restaurant gestig.

Volgens Stephanie Conradie, die tak se skakelbeampte, bestaan die tak uit voormalige weermagveterane wat deel was van die land se verdedigingsmagte in die 1960’s en lede wat voor 1994 in die Suid-Afrikaanse Weermag gedien het.

Om as lid by die tak in te skakel moet die persoon kan bewys dat hulle voorheen ’n dienspligtige, in die staandemag, reserwemag of die ou kommando gedien het.

Die SA-weermagvereniging is in 2009 gestig om die nodige ondersteuning te bied aan mans en vroue wat opofferings moes maak tydens hul weermagloopbaan.

Die lede word by welsyn- en gemeenskapsprojekte betrek, het sy gesê.

Die projekte is veral daar om veterane by te staan wat sukkel om te oorleef met klein pensioene.

Dit is verder die vereniging se administratiewe plig om nuwe lede by die departement van militêre veterane te registreer sodat hulle ook die voordele van die regering kan geniet.

“Die militêre veteranewet van 2011 maak voorsiening daarvoor,” het Conradie gesê.

Soos in die weermag, word lede binne eenhede in sektore (munisipale distrikte), opgedeel en neem in hierdie verband deel aan sosiale- en gemeenskapsprojekte.

Die maandelikse “Ops Kolgans-ontbyte”, wat deur die lede se gesinne bygewoon word, is begin om kameraadskap te bou en die gemoedere hoog te hou, het sy gesê.

Weermaglede beskik oor baie kennis en daarom kan hulle baie suksesvol aangewend word om te help om veiligheid in hul gemeenskappe te verseker, het sy gesê.

Die lede van die Buyskop-eenheid het intussen kosprodukte aan Huis Tekna, ’n veilige hawe vir verwaarsloosde kinders in Bela-Bela, geskenk.

Nog ander projekte word in samewerking met Huis Tekna se bestuur beplan.

Conradie het versoek dat alle veterane in die omgewing wat die kameraadskap van ouds wil herleef, saam met hulle kom kuier op Saterdag 12 Februarie tydens die tak se volgende Ops Kolgans-ontbyt by Springbok Boma. Dit begin om 10:00.

Vir provinsiale navrae oor die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging kan mense vir Alice Hannekom bel by tel. 083 399 1869.

Vir die Buyskop-eenheid kan mense vir Conradie bel by tel. 082 722 7340.

Related Articles

Back to top button