Local newsNews

TVET-kollege open binnekort sy deure

Daar is goeie nuus vir plaaslike skoolverlaters wat graag nader aan die huis tersiêre opleiding wil ontvang.

’n Nuwe kampus van die Lephalale Tegniese Beroepskool (TVET) open eersdaags in Van der Merwestraat in Bela-Bela.

Beroepskole bestaan reeds in die Waterberg-, Mogalakwena-, Vhembe-, Capricorn-, Mopani- en Sekhukuhne-distrikte in Limpopo.

Ishmail Mnisi, woordvoerder van die departement van hoër onderwys, het by navraag gesê die rede vir die Lephalale-kampusuitbreiding was om die afstand tussen die instansies en studente te verkort. Daar is ’n groot behoefte onder plaaslike studente om opleiding te ontvang.

“Daar was oorweldige ongelukkigheid in die verlede van studente wat na ’n ander distrik moes pendel om verdere opleiding te kry en in die proses kwalifikasies moes prysgee omdat dit logistiese uitdagings gebring het. Beroepskole word deur die departement beheer en gemoniteer en daarom het ons via die Lephalale-kampus ’n oplossing gevind.”

Die departement se boekjaar begin in April. Dit neem volgens Mnisi ongeveer drie tot vier jaar om ’n beroepskool van die grond af op te bou en daarom het hulle eerder na bestaande persele gekyk wat geskik sal wees vir ’n kampus.

’n Tender is in Januarie 2020 in die staatskoerant gepubliseer om die ou kommandogebou in Van der Merwestraat in ’n kampus te omskep.

Daar is ook tenders aangevra vir nuwe toiletgeriewe. Covid-19 se vlak 5-inperkings het egter drie maande later ingetree en alle werksaamhede betreffende die projek is tydelik gestaak.

’n Nuwe tender is eers weer in September 2020 gepubliseer. Konstruksie het intussen begin en die kampus behoort volgens Mnisi eersdaags sy deure te open.

“Ons beoog om die gebou begin Maart oop te stel vir personeellede en studente, maar indien die konstruksie nie betyds voltooi is nie, sal die datum aangeskuif word,” het Moses Kgosana, projekbestuurder, by navraag gesê.

“Die Lephalale Tegniese Beroepskool dra die kostes vir die bouwerk van ’n kampus in Bela-Bela. Daar was baie vertragings wat verband hou met Covid-19. Die inperkings, die sluit van provinsiale grense, kontrakteurs se werkers wat siek geword het en die beskikbaarheid van boumateriaal was van die baie struikelblokke wat ons moes oorwin.”

Mnisi en Kgosana het albei gesê hulle glo die nuwe kampus sal ’n aanwins vir Bela-Bela en die omliggende gebied se skoolverlaters wees.

Related Articles

Back to top button