Local newsNews

Polisiestasie se tuine lyk spoggerig

’n Paar flukse vroue van die Ruk-Naboom-Reg-groep in Mookgophong het verlede week die tuine by die polisiestasie in die dorp verfraai.

Volgens Antoinette Wagener, een van die voorlopers van die projek, het hulle nog baie planne om die dorp op te kikker.

“Dit is nie ’n eenmalige projek nie, maar volgehoue instandhouding sodat ons die dorp weer in sy volle glorie kan herstel,” het sy opgewonde vertel.

Wagener en die ander vroue het die warm son getrotseer en die tuinier van die terrein gehelp om die bestaande tuin oop te snoei.

Die potte is opgekikker met verf en hier en daar ’n plantjie.

“Die tuinier het byna geen tuingereedskap nie en het gesukkel om die plek in stand te hou. Hy het ook ander daaglikse verpligtinge,” het sy gesê.

Die groep het geen politieke of ander affiliasies nie en enigeen is welkom om by hulle aan te sluit.

Die ysterpotte in Nelson Mandelalaan en die terrein by die poskantoor word ook deur hulle onderhou.

Wagener het aan Die Pos gesê die volgende projek is die tuine by die munisipale kantore. Die vroue sê hulle sal raad en leiding gee om die tuin met min moeite in stand te hou.

Hulle beplan ook om die trein wat by die munisipale kantore is te restoureer sodat dit weer ’n mooi baken in die dorp kan wees.

Volgens Wagener is die samewerking tussen al die partye baie goed.

“Dit is asof daar ’n vuurtjie aangesteek is om kragte saam te span in ’n poging om die dorp te verfraai.”

Related Articles

Back to top button