Local newsNews

Polisie slaan toe by myn

Die inspektoraat vir prioriteits misdaad (Die Valke) in Limpopo het beslag gelê op myntoerusting van miljoene rande en ook vermeende onwettige myners by die Chromnet-myn in Northam vasgetrek.

Kapt. Matimba Maluleke, ’n woordvoerder van die Valke, het in ’n mediaveklaring gesê die verdagtes was in besit van twee stootskrapers en ’n trok, ter waarde van R3 miljoen.

“Die Valke, in samewerking met die polisie van Northam, het 11 mans op Donderdag 27 Januarie in hegtenis geneem weens beweerde onwettige mynaktiwiteite. Die beskuldigdes, waarvan die oudste 47 jaar is, het na bewering onwettig chroom gemyn en was ook in besit van onwettige myntoerusting,” het Maluleke gesê.

Maluleke het verder gesê nog ’n beskuldigde, wat homself as die eienaar van die masjinerie voorgedoen het, word daarvan aangekla dat hy probeer het om polisielede op die toneel met R15 000 om te koop.

Die 11 beskuldigdes het reeds in die Northam-landdroshof verskyn op aanklagte van onwettige mynaktiwiteit.

Die saak is uitgestel tot Vrydag 4 Februarie. Die 12de beskuldigde, ’n 48-jarige man, het in die hof in Thabazimbi verskyn op aanklagte van onwettige mynaktiwiteit én korrupsie.

Maluleke het in ’n onderhoud met Die Pos bevestig dat die ondersoek voortduur.

“Ons ondersoek die saak en probeer vasstel waar die masjinerie wat deur die beskuldigdes gebruik is, vandaan kom,” het hy verduidelik.

Hy het gesê tot tyd en wyl word die toerusting aan die staat verbeurd verklaar. Bench Marks Foundation (BMF), ’n organisasie wat fokus op die monitering van multinasionale maatskappye in Suid-Afrika, het verlede jaar beweer dat talle onwettige mynaktiwiteite in Suid-Afrika die gevolg is van wanbestuur van geslote- en gerehabiliteerde myne.

David van Wyk, hoofnavorser van BMF, het verduidelik hoewel daar talle wette is wat die rehabilitasie van myne betref, gebeur dit dikwels dat nie-operasionele skagte ná die sluiting van myne onbeskermd bly en lei tot ’n landwye toename in onwettige mynaktiwiteite.

In ’n verslag wat verlede jaar deur die SABC-nuusspan saamgestel is, het Van Wyk gesê daar is ondanks wetgewings steeds baie verlate myne in die land wat nie beveilig word nie.

“Daar is ongeveer 2 000 verlate myne in Suid-Afrika ten spyte daarvan dat die wet op ontwikkeling van minerale- en petroleum hulpbronne baie duidelik stipuleer hoe die sluiting van myne moet geskied,” het hy verduidelik.

Volgens Van Wyk is miljarde begroot vir die bestuur en rehabilitasie van verlate myne, maar die geld is skaars gebruik.

Dit kan, volgens hom, een van die groot redes wees waarom onwettige mynaktiwiteite in Suid-Afrika toeneem.

Maluleka het aan Die Pos verduidelik dat niemand tans kan bevestig of hierdie soort wanbestuur die oorsaak was vir die beweerde onwettige aktiwiteite by die Chromnet-myn nie.

Vir enige inligting of navrae oor die saak, kan mense vir kapt. Matimba Maluleke bel by tel. tel.082 565 7998.

Related Articles

Back to top button