Local newsNews

Helpende Hand open nog ’n omgee-winkel in Thabazimbi

Solidariteit Helpende Hand het besluit om ’n winkel in Thabazimbi te open en op dié manier geld in te samel vir hulpbehoewende gesinne in die dorp en omgewing.

Die opening van die nuwe “Ons Winkel” kom kort ná die stigting in Desember van Helpende Hand se nuwe Northam/Thabazimbi-tak. Die winkel is in Rietbokstraat geleë.

Volgens Béanka van Niekerk, eienaar van die nuwe winkel, is sy opgewonde om ’n verskil in die gemeenskap te maak.

“Ons Winkel-Thabazimbi” is, soos die ander winkels regoor Suid-Afrika ’n nie-winsgewende liefdadigheidswinkel wat afhanklik is van die gemeenskap se hulp en skenkings.

Die nuwe Ons Winkel van Helpende Hand is in Rietbokstraat 3, Thabazimbi, geleë en is reg oorkant Eerste Nasionale Bank.

Sy het voor die winkel se amptelike opening op Vrydag 21 Januarie reeds ’n beroep op die gemeenskap van Thabazimbi gedoen om ook by die projek betrokke te raak en skenkings het ingestroom.

“Soos baie ander liefdadigheidswinkels maak ons staat op die gemeenskap se hulp en ondersteuning,” het Van Niekerk verduidelik.

“Alle winste wat Ons Winkel uit ons verkope maak, word teruggeploeg in die gemeenskap om armoede te verlig.”

Solidariteit Helpende Hand het deur die jare bekend geword as ’n liefdadigheidsorganisasie wat fokus op opheffing deur opvoeding, het Marianthie Botha, streeksorganiseerder van Helpende Hand in Limpopo, gesê.

Dit is dan ook die doel van die nuwe Ons Winkel in Thabazimbi. Botha het verder aan die Pos gesê sy is opgewonde om te sien wat die span mense in die toekoms vermag.

“Ons het reeds ’n paar projekte vir 2022 beplan en ons begin met ’n besoek aan die dorp in Januarie om Helpende Hand se skooltassies af lewer as deel van ons Tassie-projek,” het sy afgesluit.

Bel gerus vir Béanka van Niekerk by tel. 073 047 2988 vir meer inligting of skenkings.

Related Articles

Back to top button