Local newsNews

Mienkie verf die lewe vol kleur

Die Amerikaanse skilder Bob Ross het gesê kuns is die spieëlbeeld van die lewe en in min gevalle is dit só waar soos in die kuns van Mienkie Broekhuizen, een van Thabazimbi se mees talentvolle kunstenaars.

Broekhuizen het die afgelope vakansie talle van haar kunswerke by ’n bekende koffiewinkel in die dorp uitgestal.

Wanneer ’n mens na haar skilderye kyk, is dit duidelik dat dit die werk van ’n ervare kunstenaar is. Sy sê self sy is al meer as 50 jaar doenig met kunsprojekte.

Broekhuizen se kuns weerspieël die alledaagse mooi van die lewe: beeste wat wei, hoenders wat kloek om mekaar en kinders wat in die buitelug speel.

Of dit nou ’n stillewe is, ’n natuurtoneel of ’n studie van ’n vrou wat haar ganse voer, Broekhuizen se kuns vertel ’n storie van die lewe.

Broekhuizen glo dat kuns en talente, soos die lewe, ’n absolute gawe van God is. Gwen Holtshauzen, eienaar van die koffiewinkel, het gesê sy was baie opgewonde om dié kunsuitstalling, wat ’n eerste in sy soort is, by haar winkel te kon aanbied.

“Soos baie ander dinge in die lewe is daar ’n storie agter elke kunswerk en dit was vir my ’n wonderlike ervaring om te kon deel in die verhale. ’n Mens hoef amper nie eens die storie agter elke kunswerk te hoor om die verhaal te verstaan nie, want Mienkie se kuns is net eenvoudig mooi en laat almal wat daarna kyk met ’n gevoel van genoegdoening.”

Related Articles

Back to top button