Local newsNews

Strate word riviere tydens reën

Die swaar reën wat in Desember geval het, het die hoofstraat van Modimolle se nywerheidsgebied, Oktaanstraat, in ’n rivier verander.

Hierdie einste pad is einde Augustus 2021 in gebruik geneem nadat dit met plaveiselstene oorgebou is.

Volgens sakelui in die omgewing, wat die afgelope sewe jaar al kla oor die uiters swak toestand van die paaie in die nywerheidsgebied, was die nuwe pad se konstruksie nie op standaard nie.

Daar is ook nie voldoende voorsiening gemaak vir die afvoer van stormwater nie.

’n Sakeman, wat verkies om anoniem te bly, het verduidelik dat die pad se oppervlak minstens 30 cm hoër moes wees as wat dit tans is sodat water kan afloop na die laerliggende dele. “Omdat die pad nou die laagste vlak is, verander dit in ’n rivier tydens die reënseisoen,” het hy gesê.

Sakelui van Modimolle het self ingespring om stormwaterafvoerslote te herbou sodat water vinniger van die padoppervlak kan wegvloei.

Volgens Fernando Goncalves, eienaar van Pavecon wat spesialiseer in die vervaardiging van plaveiselstene, veroorsaak water wat vir lang tydperke op die padoppervlak opdam dat die pad op talle plekke begin insak. Daar is reeds heelwat plaveiselstene wat gebreek en beskadig is. Hy het aan Die Pos verduidelik dat sy span werkers tans besig is om van die randstene hoër te lig en ook van die stormwaterafvoerslote dieper te grawe sodat water nie op die padoppervlak opdam nie. Hierdie werk word op eie onkoste gedoen.

Daar vind ook erosie plaas weens los grond bo-op die plaveisel wat soos skuurpapier werk wanneer motors en vragmotors die pad gebruik. Volgens Goncalves verkort hierdie erosie die langtermyn gebruik van die pad. “Die plaaslike munisipaliteit is veronderstel om al die paaie in stand te hou wat beteken dat dit gereeld gevee moet word met ’n straatveërmasjien. Daarmee saam moet stormwaterafvoerpype gereeld skoongemaak word om grond en blokkasies te verwyder sodat water so vinnig moontlik kan wegvloei,” het hy gesê.

Eunice Ramuthivheli, bestuurder: paaie en stormwater, het tydens die amptelike heropening van Oktaanstraat (Fase 1) op Dinsdag 24 Augustus 2021 gesê die plaaslike owerheid se paaie-afdeling sal die gereelde onderhoud van hierdie nuutgeplaveide pad handhaaf.

Die pad voor die graansilo’s dra die meeste swaarverkeer en verskeie systrate in die nywerheidsgebied moet ook nog met plaveiselstene herbou word.

Related Articles

Back to top button