Local newsNews

Oud-stadsklerk van Mookgophong sterf

Thinus Botha (71), ’n bekende inwoner van Mookgophong en oud-stadsklerk van die dorp, is op Maandag 27 Desember in die MediClinic in Brits oorlede.

Volgens Botha se seun, Sarel Botha, het sy pa diabetes gehad en moes hy tot vier keer per dag insulien ontvang. Hy het hart-, nier- en longversaking gehad en was van 21 Desember tot 23 Desember in Bela Bela in die hospitaal. Daarna is hy na die MediClinic in Brits oorgeplaas waar hy oorlede is.

Botha is op 3 April 1950 in Modimolle gebore en het in 1967 aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. Hy het sy diensplig voltooi en daarna by die Landbank begin werk. Hy het sy loopbaan by plaaslike munisipaliteite in 1971 begin toe hy ’n aanstelling in Bela-Bela (toe nog Warmbad) se munisipaliteit gekry het. Hy is in 1982 as stadstesourier by die stadsraad van Mookgophong, destyds Naboomspruit, aangestel.

As departementshoof van finansies het hy die bul by die horings gepak en saam met sy kollegas het hulle die dorp se finansiële posisie só vinnig verbeter dat die dorp se strate geteer kon word.

“My pa is van 1989 tot 2001 op grond van sy bestuursvermoë, goeie finansiële kennis en ervaring as stadsklerk van Naboomspruit aangestel,” het Sarel gesê.

Daarna is hy onthef van sy pos toe dit verander is na dié van munisipale bestuurder. Met die oorname van die destydse streeksdiensteraad is hy na Roedtan verplaas. Hy het 42 jaar diens op munisipale vlak gelewer en in 2013 bedank. Botha was tot in 2020 ’n raadslid vir die Vryheidsfront Plus (VF-Plus).

Hy was ook ’n bekende boer in die Roedtan-omgewing.

“My pa het geglo dat politiek nie in die munisipaliteit hoort nie en dit was ook die sleutel tot sy sukses. Hy het in 2001 met sy uittrede miljoene rande in die munisipaliteit se rekening gelaat,” het Sarel vertel.

Hy word oorleef deur sy vrou Elsabé en vier kinders.

Related Articles

Back to top button