Local newsNews

Ligloop vir slange buite en binnenshuis

Theunis Victor, plaaslike slangvanger en -kenner van Modimolle, versoek inwoners om op die uitkyk te wees vir slange wat hul graag tuismaak in knus plekke binne-in wonings en kaste, asook buite in hope bourommel of tuinvullis. Op plase moet mense ligloop vir slange wat moontlik skuil in stoorkamers en plekke waar voerbale en lusern gestoor …

Theunis Victor, plaaslike slangvanger en -kenner van Modimolle, versoek inwoners om op die uitkyk te wees vir slange wat hul graag tuismaak in knus plekke binne-in wonings en kaste, asook buite in hope bourommel of tuinvullis. Op plase moet mense ligloop vir slange wat moontlik skuil in stoorkamers en plekke waar voerbale en lusern gestoor word. Dit is raadsaam om te sorg dat die areas rondom huise en buitegeboue skoon gehou word en alle tuinvullis, stapels brandhout en bourommel te verwyder.

Theunis Victor, plaaslike slangvanger, met die twee luislange wat onlangs in ’n stoorkamer en in ’n hoenderhok op ’n plaas buite Modimolle gevang is.

Victor het aan Die Pos vertel dat hy die afgelope tyd baie besig was. Hy het onlangs twee Suid-Afrikaanse luislange van onderskeidelik 2 m en 3 m op ’n plaas buite Modi-
molle gevang. Een van die luislange is in ’n stoorkamer opgespoor terwyl die ander slang homself in die hoenderhok tuisgemaak het. Luislange besoek graag hoenderhokke waar een slang maklik tot drie hoenders op ’n keer heel kan insluk.

Die Suid-Afrikaanse luislang is ’n beskermde spesie en mag nie doodgemaak word nie. Hoewel die slange geen giftande of -kliere het en dus nie giftig is nie, bly hulle steeds gevaarlik. Luislange het ’n bek vol tande waarmee hul hul prooi kan vang en vashou terwyl hul om die prooi kan krul sodat druk op die borskasgedeelte uitgeoefen word. Die prooi sterf uiteindelik as gevolg van asemnood en word dan heel ingesluk.

Volwasse luislange kan selfs groter prooi soos vlakvarke, jakkalse en wildsbokke baasraak. Luislange koel graag in damme af waar hulle lê en wag vir moontlike prooi om water te kom drink.

Indien ’n luislang gesteur of bedreig word kort nadat die prooi ingesluk is, sal die slang die prooi uitbraak om sodoende vinnig te ontsnap.

In ’n ander voorval het ’n boervrou op ’n plaas naby Modimolle Victor se hulp op Saterdag 8 Januarie en toe weer op Dinsdag 11 Januarie ingeroep om slange in die huis te verwyder. In albei gevalle was dit Mosambiekse-spoegkobras wat hulle in die slaapkamers tuisgemaak het. Die Mosambiekse-spoegkobra se gif is dodelik en veroorsaak weefselafsterwing om die bytplek. Die slang sal ook gif na die aanvaller se oë spoeg wat tot blindheid kan lei.

Victor se raad aan inwoners is om doodstil te staan en wag dat die slang wegseil of anders kan daar vinnig agteruit, weg van die slang, beweeg word. Hou die slang dop van ’n veilige afstand van minstens 4 m totdat ’n opgeleide slangvanger opdaag om dit veilig te verwyder. Indien iemand deur ’n giftige slang gebyt word, is dit raadsaam om so spoedig moontlik na die naaste groot hospitaal in Gauteng te gaan omdat teengif nie geredelik op die platteland beskikbaar is nie.

Bel vir Theunis Victor by tel. 082 823 6910 of vir LD Pienaar by tel. 072 475 6414. ’n Minimale uitroepkoste wat aangewend word vir brandstofuitgawes word gevra.

Related Articles

Back to top button