Local newsNews

Jong sekretarisvoël kry toestel om migrasie te moniteer

Die Sondela-natuurreservaat buite Bela-Bela het kort voor Kersfees, in samewerking met Birdlife SA, hul sekretarisvoëlprojek ’n hupstoot gegee toe hulle ’n kuiken met ’n opsporingstelsel toegerus het.

Die doel daarvan is om die migrasie van die sekretarisvoël te moniteer.

Kommer heers oor die spesie se voortbestaan. Hulle bewaringstatus is in 2011 van bedreig na kwesbaar verander.

Birdlife SA se Ernst Retief en dr. Hanneline Smit-Robinson het destyds met ’n projek begin om hierdie spesies te merk en hul beweging dop te hou. Die projek is later deur dr. Melissa Whitecross oorgeneem.

Die spesie se opsporingstoerusting is met sonpanele toegerus en hul migrasie kan dus oral gemoniteer word. Die data wat op dié manier ingesamel word, word gebruik om grondeienaars in kennis te stel wanneer die voëls in hul omgewing is.

“Hierdie is die derde sekretarisvoël wat op Sondela met ’n opsporingstoestel toegerus is,” het Charles Trennery, Sondela se bewaringsbestuurder, aan Die Pos gesê.

Die sekratrisvoël is ’n skaars spesie wat in al nege provinsie voorkom. Hulle verkies ’n habitat wat oop velde het en maak gewoonlik in doringbome nes. Hulle beskik oor lang bene, swartgrys vere, kuifvere en kenmerkende oranje gesigte.

Volgens BirdLife SA sluit sekretarisvoëls se dieet springkane, besies, spinnekoppe, knaagdiere, akkedisse en ander kleiner voëls in. Hoewel hulle bekend is daarvoor dat hulle slange moeiteloos kan vang, maak slange slegs 1% van hul dieet uit.

“Die spesie se migrasie is nie seisoensgebonde nie. Die vorige twee sekretarisvoëls wat op Sondela gemerk is, het so ver as Botswana gevlieg. Die navorsingsprogram is ’n nekslag toegedien toe die eerste voël in Soshanguve in kragdrade vasgevlieg het en die ander een deur jakkalse gevang is.”

Trennery het gesê die grootste rede waarom dié voëls uit ’n omgewing beweeg, is omdat hul habitat bedreig word. Ander faktore wat bydra tot die afname in getalle is kragpale en gif wat deur mense gebruik word, het hy gesê.

“Die kuiken wat nou met ’n opsporingsapparaat toegerus is, sal teen Maandag 24 Januarie gereed wees om die nes te verlaat, vanwaar ons en Birdlife SA sy bewegings sal dophou.

“Die gebied waar die voël hom vestig, kan gemoniteer en bestuur word met die data wat ons versamel. Ons is baie opgewonde oor hierdie projek.”

Lesers kan die webtuiste www.birdlife.org.za vir meer inligting besoek.

Related Articles

Back to top button