Local newsNews

Claudia maak Thabazimbi trots

“Om mooi te wees, moet ’n mens net selfvertroue hê,” vertel Claudia Pita Ferreira, een van Thabazimbi se talentvolle jong modelle, aan Die Pos.

Dié 21-jarige model het naam gemaak as die gesig van verskeie bemarkingsveldtogte en het selfs al in ’n musiekvideo van die gewilde sanger Brendan Peyper verskyn. Niemand was dus verbaas toe sy vroeg verlede jaar aangewys is as finalis in die Mnr. En Mej. Waterbergdistrik-skoonheidskompetisie nie.

As boorling van Swartklip het sy nog altyd ’n hart gehad vir die gemeenskap en ’n groot passie vir modelwerk. Sy het ’n vriendelike geaardheid en straal lewensvreugde en selfvertroue uit. Dit het haar laat uitstaan tussen honderde hoopvolle deelnemers en ’n plek onder die topsewe in die Waterberg-kompetisie besorg.

Tussen al die voorbereidings vir die skoonheidskompetisie, haar deeltydse studies, het sy maar min tyd gehad vir haarself. Sy het egter haar gewig ingegooi by liefdadigheidsprojekte in Thabazimbi.

Sy het by verskeie geleenthede opgetree as ambassadeur vir die Thabazimbi Homeless Shelter (THS) en het haar platform gebruik om aan die weerlose mense in die dorp ’n stem te gee.
Vir Pita Ferreira is skoonheid nie bloot ’n uiterlike beeld nie, maar iets wat uitstraal wanneer jy jouself en die mense om jou liefhet en respekteer.

Related Articles

Back to top button