Local newsNews

Boere vol hoop vir 2022-seisoen

Boere in die Mookgophong-omgewing is vol moed dat dit een van die beste jare vir saaiboere kan wees.

Die Pos het met Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus Distrikslandbou-unie, gesels oor hoe hy die jaar 2022 vir boere sien. “Ek dink op hierdie stadium is ons vooruitsigte vir ’n goeie seisoen baie positief,” het hy gesê. Hy het gesê dit is die natste Januarie wat hy sedert 1990 beleef het.

Volgens Booysen moes boere bontstaan om onkruid te bestry. Die meeste boere is besig om te plant en die graan wat reeds opgekom het, is baie mooi en gesond. Die meeste boere op die Springbokvlakte het hierdie seisoen sonneblom geplant. Daar is ook katoen geplant en minder sorghum weens die daling van dié gewas se prys.

Die grasvelde is uitstekend vir weiding en met die Nylrivier wat begin loop het, het selfs die boorgate se vlakke gestyg. Wat wel groot kommer wek vir boere, is die drastiese styging van insetkoste. Veral die pryse van gif en kunsmis het die afgelope jaar byna verdubbel.

“Die verhoging van die graanpryse het ook nie tred gehou met die verhoogde insetkoste nie en met die beoogde verhoging van die minimumloon sal dit die boere negatief raak. Die koste van implimente en trekkers het byna onbekostigbaar geword,” het hy gesê. Onderdele vir die implimente het ook byna onbekombaar geword en net sekere fabrikate is beskikbaar.

Die pryse van speenkalwers het ook verlaag, maar hy glo dat dit wel binnekort sal verbeter en goeie aanteelvee is skaars en baie duur.

Booysen is baie positief dat die misdaad baie afgeneem het en hy skryf dit toe aan die doeltreffendheid van die kamerastelsels wat in die omgewing opgerig is.

“Ons as boere leef in dankbaarheid en ons glo en vertrou dat hierdie jaar ’n groot een vir die landbou gaan wees,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button