Local newsNews

Publiek gevra om op die uitkyk te wees vir gestrande aasvoëls

Aasvoëls het oor die jare sinoniem geword met Thabazimbi wat die tuiste van die tweede grootste kransaasvoël-kolonie (Cape Vulture) ter wêreld is.

Die majestueuse voëls beweeg oor die volgende paar weke in ’n baie belangrike fase van hul ontwikkeling wanneer die kuikens vir die eerste keer hul neste verlaat en hul nooiensvlugte onderneem.

Kerri Wolter, uitvoerende hoof van die aasvoëlrehabiliasieprojek Vulpro, het aan Die Pos vertel dit gebeur dikwels dat aanvoëlkuikens wat gedurende dié tyd hul neste verlaat, in minder ideale omstandighede beland aangesien die eerste vlug hul dikwels uitput.

“Hulle raak dikwels op vreemde plekke gestrand aangesien hulle nog nie in staat is om te lank en te ver te vlieg nie,” het Wolter verduidelik. “Dit is daarom dat Vulpro tydens hierdie vlugseisoen graag inwoners van Thabazimbi wil aanmoedig om op die uitkyk te wees vir gestrande aasvoëlkuikens.

Wolter het verduidelik die kuikens raak meestal gestrand in digbeboste gebiede of valleie waar die wind te sterk is vir hulle om weer op te styg omdat hulle nog onervare is.

Daar was volgens Wolter vanjaar 618 broeipare in die Marakele-omgewing waarvan 60 tot 70% suksesvol geteel het en daarom het hulle besluit om vanjaar die hulp van die gemeenskap in te roep om die veiligheid en oorlewing van dié kuikens te verseker.

As inwoners dalk een van dié kuikens teëkom is dit belangrik om die regte prosedures te volg om te verseker dat hulle weer veilig in die natuur vrygelaat word.

“Dit is belangrik om by die voël te bly aangesien jong aasvoëls, selfs al is hulle beseer, ver ente kan stap en dan kan wegraak.”

Wolter maan mense om Vulpro dadelik te kontak indien hulle op so ’n jong voël afkom sodat hulle telefonies kan bystand verleen oor hoe om die voël veilig te hou totdat een van hul vrywilligers na die toneel sal uitkom.

“Aasvoëls kan nie soos ander kleiner voëls dadelik weer vrygelaat word nie. Hulle het rehabilitasie nodig. Die verskil tussen lewe en dood vir ’n jong beseerde aasvoël lê in ons as gemeenskap se samewerking.

Vulpro se noodnommer is tel. 082 808 5113.

Related Articles

Back to top button