Local newsNews

Oud-Hansie presteer

’n Oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, Anneri Gravett, is aangewys as die beste biokinetikastudent in 2021 aan die Noordwes Universiteit (NWU) in Potchefstroom.

Dié slimkop, wat in 2017 sewe onderskeidings in haar matriekjaar verwerf het, sê een van haar doelwitte was nog altyd om as professionele atleet ander mense se lewens te verander en te inspireer.

“My planne word bepaal deur waar die Here my wil hê. Ek het werk gekry by die Instituut vir Biokinetika van die NWU en gaan aanstaande jaar daar werk en vir eers ’n Potchefstromer bly,” het sy met haar kenmerkende breë glimlag gesê.

Een van haar opwindende verantwoordelikhede sluit in dat sy in 2022 moet bystand bied by die Rugby-instituut vir die Varsity Cup-span.

Gravett het BSc. (biokinetika) studeer wat ’n vier jaar graadkursus is.

“Ons is die eerste groep wat hierdie graad by die NWU voltooi het,” het sy gesê.

Die toekenning wat sy ontvang het, is gegrond op haar akademiese prestasie oor die afgelope vier jaar, haar praktiese werk en hoe sy by die studentelewe ingeskakel het.

Sport is Gravett se passie. Sy het in 2018 ’n bronsmedalje in sewekamp vir vroue by Atletiek Suid-Afrika se kampioenskap in Pretoria verwerf.

Lebu van Heerden, sporthoof van die Hansies, het die afgelope week aan Die Pos gesê:

“Anneri het weer bewys dat harde werk beloon word. Ons wens haar alle sukses toe. Ons is ongelooflik trots op haar.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button