Local newsNews

Kommer heers oor dorp se opvangsgebied

Inwoners op die Alma-pad buite Bela-Bela het die afgelope week by Die Pos gekla oor beweerde onwettige aktiwiteite in die omgewing van die ou Warmbad-dam.

’n Kontrakteur is al sedert middel 2020 besig om paaie in die opvangsgebied te herbou.

Besorgde inwoners sê ondersoeke toon dat die kontrakteur grond uit die opvangsgebied myn wat moontlik ’n negatiewe impak op die omgewing kan hê.

Bewerings word gemaak dat geen impakstudies gedoen is nie en dat die bedrywig- hede gronderosie tot gevolg kan hê wat die opvangsgebied kan skaad.

Daar word ook beweer dat baie Bosveldbome in die slag bly. Tinus Ras, DA-raadslid, het die afgelope week by navraag aan Die Pos gesê die projek om die paaie te herbou was in opdrag van die departement van water en sanitasie.

Die doel met die bou van paaie in die omgewing is om munisipale tegnici direkte toegang tot die damstelsel te bied, het hy gesê. Verder is die bou van ’n begaanbare pad ook nodig om nooddienste te ondersteun indien daar ’n brand uitbreek.

Die onbegaanbaarheid van die terrein was nog altyd ’n struikelblok vir brandbestryders as veldbrande in die Spa Park- en Koppewaai-omgewing uitbreek.

“Die projek om die toegangspaaie te verbeter, is goedgekeur. Sover my kennis strek is daar in geen stadium toestemming aan die kontrakteur gegee om te myn nie,” het Ras gesê.

Hy het gesê ondersoek word ingestel na die klagtes oor die projek.

“Ek was reeds voor die munisipale verkiesing saam met die burgemeester en die munisipale bestuurder by die dam-omgewing vir inspeksie. Ons het uitgevind dat die grond wat ontgin word, vir die opgradering van die Roodepoort-grondpad gebruik word.”

Ras het gesê die kontrakteur het kennis geneem dat die ontginning “beperk” moet word en het ingestem dat hulle die betrokke grondgebied sal rehabiliteer sodra die Roodepoort-pad voltooi is.

Related Articles

Back to top button