Local newsNews

Inwoners moedeloos oor krag- en wateronderbrekings

Groot gedeeltes van Modimolle was die afgelope ruk gereeld sonder water en elektrisiteit. 

Die donderstorm wat op Woensdagmiddag 1 Desember losgebars het, het ’n groot boom in Thabo Mbekistraat in Modimolle ontwortel.

Die boomtakke het die nabygeleë kragpaal geknak en elektriese kabels beskadig wat groot gedeeltes van die dorp sonder krag gelaat het.

Nog ’n storm wat omstreeks 04:00 op Saterdagoggend 27 November losgebars het, het vermoedelik skade aan verskeie elektriese strukture aangerig sodat die plaaslike owerhede inderhaas oor die naweek verskeie kragpunte en substasies moes herstel.

Groot gedeeltes van Modimolle was die afgelope ruk gereeld sonder water en krag. In die Phagameng-township was die gedeelte om die Solomon Mahlangu School vir bykans die hele Saterdag sonder krag omdat die munisipaliteit eers ’n kragpaal moes herbou waarna ’n nuwe transformator geïnstalleer moes word.

Phomolong-uitbreiding 8 en 9, asook Phagameng-uitbreiding 11, moes ook ’n dag sonder krag klaarkom.

In die dorp was daar ’n gedeelte van wyk 12 (tussen Kerk-, Van Niekerk-, Friedberg- en Rupertstraat) wat sedert die Saterdagoggend tot bykans 16:00 sonder krag was.

Die grootste probleem was egter die krag wat by die korrektiewe dienssentrum in Nelson Mandelastraat afgegaan het. Volgens hul woordvoerder het net een van hul twee kragopwekkers gewerk en was die geboue en perseel in duister gehul. Die kombuis kon gevolglik ook nie aandete voorberei vir die gevangenes nie en daar is gevrees dat oproer kon uitbreek.

Sarna Groenewald, DA-wyksraadslid, het omstreeks 19:00 die Saterdagaand ’n boodskap uitgestuur om dringend te vra vir sterk vloedligte wat met batterye werk sodat die noodsaaklikste gedeeltes van die dienssentrum ten minste verlig kon word.

Hennie Blignaut, eienaar van HP Elektries, het tot hul redding gekom. Wateronderbrekings is ook die afgelope paar weke gereeld aangemeld, veral in die hoogliggende gebiede vanaf Bosveldsig tot by Kerk- en Boshoffstraat. Hierdie hele gebied was tussen Sondag 14 November tot Dinsdag 16 November vir bykans drie dae sonder water.

Volgens die plaaslike owerheid se span word dit toegeskryf aan elektriese probleme wat by die waterpompstasie van die hoëdruk watertoring by Bosveldsig ondervind word. Eers nadat die hulp van privaat elektrisiëns ingeroep is, is daar glo vasgestel dat die motors se bedrading foutief was.

Daarmee saam is daar ook verskeie probleme met kragtoevoer in die omgewing.

Volgens Groenewald het die munisipaliteit uiteindelik ingestem om die verouderde waterpompmotors te vervang. Die twee nuwe motors, wat op Woensdag 24 November afgelewer is en die Donderdagaand geïnstalleer is, sal hopelik ’n langtermynoplossing bied, mits dit gereeld instand gehou word, het sy gesê.

Volgens Piet du Toit, jarelange inwoner van Modimolle en kenner op die gebied van elektrisiteit, gebeur hierdie probleme hoofsaaklik weens ’n gebrek aan instandhouding van die dorp se elektriese infrastruktuur. Daarmee saam veroorsaak beurtkrag ernstige skade aan hoogspanningskabels weens die skielike kragstuwing wat plaasvind sodra die elektriese stroom weer aangeskakel word.

Weerlig veroorsaak ook groot kragstuwing wat die verouderde kabels kan laat brand op plekke waar die isolasie mettertyd verswak het.

Daar is vermoedelik ’n hele aantal hoogspanningskabels en ringvoerders in hierdie gedeelte van die dorp wat volgens Du Toit reeds vier jaar gelede vervang moes word.

Intussen sit moedelose inwoners met hul hande in hul hare oor peperduur water- en kragtariewe.

Related Articles

Back to top button