Local newsNews

Gewilde dieretuin is verlig, maar steeds bekommerd

Die personeel van die Mystic Monkeys-dieretuin in die Rust de Winter-omgewing slaak ’n sug van verligting dat hulle ondanks die afgelope twee jaar se Covid-19-inperkings steeds hul diere veilig en hul deure oop kon hou.

Die dieretuin het, soos talle ander toerismeondernemings, harde klippe gekou en moes moeilike besluite maak om kop bo water te hou.

Tog sê hulle geen diere het in dié tyd swaargekry nie en geriewe en die versorging van diere het voorrang tydens die inperking geniet.

“Ons was geseën met besoekers en ons maak seker dat ons ons inkomste aanwend om na die diere se welstand om te sien,” het Sarita Riegger, Mystic Monkeys-bemarker, aan Die Pos gesê.

“Indien die regering die toeriste uit vrees vir die nuutste Covid-19-variant weer gaan inperk, sal dit ons erger raak as in 2020. Die reserwes wat ons gehad het, is nou opgebruik.”

Mystic Monkey’s het meer as 120 verskillende soorte eksotiese spesies wat deur besoekers besigtig kan word. Dit sluit verskeie karnivore, herbivore, voëls en die gewilde primate in.

Besoekers kan ook gaan kyk na die bere, miniatuurseekoeie en pikkewyne.

“Ons moet selfonderhoudend wees en is een van die min dieretuine wat dit tydens die grendeltydperk kon handhaaf. Christa Saayman, eienaar, se slagspreuk in die lewe is om te oorleef met min hulp. Dit is waar goeie bestuur van hulpbronne baie beteken.”

Die dieretuin verwelkom steeds besoekers, maar Riegger het gesê die toegangsgeld is ’n druppel aan die emmer in vergelyking met hul bedryfskoste. Hulle spits hulle ook toe op die in- en uitvoer van diere. “

Ons kan steeds, met die nodige uitvoerdokumente, permitte en gesondheidsertifikate, eksotiese diere na sekere lande uitvoer, maar die meeste lande het hul deure vir die bedryf gesluit. Ons moet dan bykomende uitgawes aangaan om na die diere om te sien totdat die grense weer oopgestel word. Dit gaan nie sleg nie, maar dit kan altyd beter. Elke dag het nuwe uitdagings,” het sy gesê.

“Ons almal in die bedryf sit in dieselfde bootjie. Ons het intussen diere gekoop van sentrums wat weens die inperkings nie meer vir hul diere kon sorg nie. Ons lodge, oornaggeriewe en die dieretuin is oop vir die publiek. Elke besoeker moet weet dat hulle bydra tot die diere se welstand.”

Die bestuur het dit beklemtoon dat hulle die onwettige handel in diere verafsku en alles in hul vermoë sal doen om dit te bekamp.

  • Die Mystic Monkeys-dieretuin is op die D626-pad vanuit Pienaarsrivier in ’n oostelike rigting.

Besoek hulle gerus die feesseisoen en skoolvakansie. Die jongspan sal die manewales van die primate baie geniet.

Related Articles

Back to top button