Local newsNews

Fondsinsameling vir Willie ’n sukses

Yolande Liebenberg, ’n inwoner van Mookgophong, het in samewerking met die Naboom-kontreimark ’n windbuks- skyfskietkompetisie en ’n veiling aangebied om geld in te samel vir Willie Willemse wat twee maande gelede met ’n breingewas gediagnoseer is.

Volgens André Pienaar, ’n baie goeie vriend van Willemse en aanbieder van die kontreimark, is dit ’n vinnig groeiende, kwaadaardige breingewas.

Willemse het weens sy siektetoestand sy werk verloor en moes al sy bates verkoop om die hoë mediese koste te delg. Hy het ’n operasie ondergaan en ontvang sedertdien chemoterapie.

“My vriend se lewe het die afgelope twee maande drasties verander en ons is dankbaar vir elkeen se bydrae om hom te help. Die opbregs van die veiling en skietkompetisie het syn behandeling ’n hupstoot gegee,” het Pienaar gesê.

Willemse was produksiebestuurder van Gimtrac wat sportapparaat vervaardig en wêreldwyd installeer. Hy is ook Pienaar se vennoot in Ilnika Agricultural Development in Angola.

Hy het in Centurion gewoon, maar ná sy behandeling gaan hy hom op die plaas by Ilnika-boerdery vestig waar hy met staalwerk sal voortgaan.

Willemse is ook betrokke by die kontreimark en ’n bekende gesig vir al die uitstallers en besoekers.

Die fondsinsameling het op Saterdag 27 November tydens die mark begin en R33 000 is ingesamel. Verskeie geborgde jagpakette is onder meer op die veiling aangebied.

Pienaar het ’n pragtige skietbaan gemaak en daar was 36 skuts wat ingeskryf het vir die kompetisie.

John van Rooyen het die eerste plek behaal met 28 punte, Monti le Roux was tweede met 27 punte en Jaco Theunissen derde ook met 27 punte.

Liebenberg het Tanya Bondesio bedank vir die borg van die kompetisie.

Related Articles

Back to top button