Local newsNews

Ent in teen virus, vra Thaba-dokter

Al hoe meer mense word die afgelope ruk weer positief vir die Covid-19-virus getoets nadat daar lank ’n stilte ná die vorige storm was.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy weeklikse skrywe aan die publiek op Maandag 6 Desember bevestig dat hy eersdaags ’n vergadering met met die National Coronavirus Command Council (NCCC) sal hê om die pandemie te bespreek.

“Die samesprekings sal ons in staat stel om te bepaal of daar enige verdere stappe geneem kan word om die veiligheid en gesondheid van alle Suid-Afrikaners te verseker.”

Ramaphosa het verder gesê die land het die afgelope paar weke die hoogste infeksiekoers sedert die uitbreek van die pandemie beleef. Volgens hom is ’n kwart van die huidige Covid-19-toetse wat gedoen word, positief.

Intussen word die moontlikheid van verpligte inentings en die gevolge daarvan oral druk bespreek.

Die regering sê steeds inentings is die beste manier om die virus en mutasies te stuit.

“As aansienlik meer mense gaan ent, kan inperkings binne ’n kort tyd verander,” het Ramaphosa verduidelik.

Hy het daarop gedui dat ongeënte mense moontlik in die toekoms beperk kan word wat toelating tot die werkplek en bywoning van geleenthede betref, maar vir nou is daar nog geen sprake van gedwonge inentings nie.

’n Taakspan onder leiding van adjunkpres. David Mabuza sal ook ondersoek instel oor die moontlikheid om inentings verpligtend te maak.

Die departement van gesondheid se syfers toon dat daar op Maandag 6 Desember 185 aktiewe gevalle van Covid-19 in Thabazimbi was wat beteken dat die getal infeksies met bykans 100 oor die afgelope twee weke gestyg het.

Dr. Jaco Marais, mediese dokter van die dorp, het in ’n onderhoud met Die Pos verduidelik dat inentings van kardinale belang is om die pandemie te stuit, maar dat daar steeds baie mense is wat weens verskeie redes nog nie die inenting geneem het nie.

“Daar is ’n groot tendens van sogenaamde vaccine hesitancy weens geloofsredes, ’n tekort aan inligting of ’n oormaat fopnuus en samesweringsteorieë wat die ronde doen wat maak dat mense huiwer om hulself te laat inent.”

Marais maan egter die publiek om verantwoordelik op te tree en soveel as moontlik betroubare kennis oor die entstof en die voordele daaraan in te win.

“Die doel van die entstof is baie soos ’n sitplekgordel in ’n voertuig,” het hy verduidelik. “Die feit dat jy jou gordel dra, verminder nie jou kanse om ’n ongeluk te maak nie. Dit verhoed ook nie dat jy seerkry in ’n ongeluk nie, maar dit verminder jou kanse vir ’n ernstige besering drasties. Die entstof kan nie verhoed dat jy Covid-19 opdoen of versprei nie, maar dit verhoed dat jy gehospitaliseer word of in erge gevalle sterf.”

Daar is talle mense wat weens ’n vrees vir newe-effekte en daarom verkies om nie die entstof te neem nie. Marais moedig diegene aan om hierdie vrae met hul huisdokter of ’n mediese kenner te bespreek eerder as om die spreekwoordelike “Doctor Google” te raadpleeg.

“Daar is baie mense wat vrees vir ernstige newe-effekte en dit is 100% te verstane, daarom is dit belangrik om die regte inligting te kry by kenners en sodoende ’n ingeligte besluit te neem.” “Daar is ontsettend baie fopnuus en verkeerde inligting wat oor die entstof versprei word. “Elke apteek of mediese sentrum kan mense vooraf deeglik inlig oor wat presies verwag kan word nadat hulle die entstof ontvang het,” het hy gesê.

’n Paar van die newe-effekte wat ’n mens kan verwag van die entstof sluit in pyn en rooiheid in die bo-arm waar die entstof toegedien is, hoofpyn, lyfseer, koors en tamheid.

Pasiënte word aangeraai om die Covid-19-blitslyn (tel. 0800 029 999) te kontak indien enige van dié newe-effekte langer as drie dae aanhou.

Related Articles

Back to top button