Local newsNews

Ysterberg Voortrekkers vier ’n jaar se prestasies

Die Ysterberg Voortrekkerkommando het op Woensdag 24 November hul jaarlikse prysuitdeling en inlywingseremonie gehou en 2021 op ’n hoë noot afgesluit.

Volgens Danie Naudé, kommandoleier, het 2021 goed afgeskop. Hy het die ouers en leerders die laaste amptelike geleentheid van die jaar verwelkom.

“Toe ons aan die begin van die jaar ons eerste waatlemoenfees van die jaar aangebied het, het ons nooit gedink dat Covid-19 hom hier in Thabazimbi sou tuismaak nie. Almal was baie teleurgesteld dat ons nie met ons normale aktiwiteite kon voortgaan nie.”

Die hele dorp het egter in die middel van die jaar, saam met die Vories, ’n sug van verligting geslaak toe die verslapping van die Covid-19-inperkingsmaatreëls aangekondig is en sedertdien het die penkoppe en drawwertjies (laerskoolleerders) én die verkenners (hoërskoolleerders) die beste gemaak van die situasie.

Teen die einde van die jaar spog dié leerders en hul offisiere met ’n string nuwe kentekens. Daarmee saam het die kinders natuurlik ook teruggekyk op ’n jaar vol herinneringe saam met hul Voortrekker-familie.

“Hier by die Ysterberg Voortrekkers is ons almal lief vir mekaar. Ons wil mekaar drukkies gee en ons aktiwiteite speel-speel aanpak; dus was dit baie moeilik omdat ons dit nié kon doen nie. Ons is nogtans dankbaar vir elke ouer, offisier en lid wat ons gehelp het om veilig deur die jaar met sy uitdagende struikelblok te kom,” het Naudé gesê.

Die Ysterberg Voortrekkers is in 2019 gestig, maar al is hulle ’n jong kommando, het die groep kinders reeds baie vermag.

Die Voortrekkers is ’n landwye kultuurbeweging wat hul lede, in besonder die jeug, toerus om as moderne Afrikaners, positiewe burgers en konsekwente Christene hul roeping deur diensbaarheid uit te leef.

Naudé nooi leerders van Thabazimbi en omliggende omgewing om in 2022 deel te word van die Ysterberg-familie.

Om meer uit te vind oor die kommando se doen en late én om aan te sluit as nuwe lid, bel gerus die kommandoleier by tel. 082 738 6737.

Die Ysterberg Voortrekkerkommando neem vir die res van die jaar ’n welverdiende blaaskans en sal hul aktiwiteite weer op Woensdag 12 Januarie 2022 hervat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button