Local newsNews

Lieselotte se kuns kry nasionale erkenning

Lieselotte Smit, ’n jong kunstenaar van Thabazimbi, het vanjaar naam gemaak toe sy tydens die nasionale ronde van die Talent Africa-kompetisie (TAK) die beoordelaars beïndruk en ’n goue toekenning losgeslaan het.

Haar skildery van ’n blou visvanger het nie net vir haar ’n goue toekenning besorg nie, maar sy het dit reggekry om met fyn kwashale en uitsonderlike kennis van kleur dié bekende voëltjie realisties lewe te gee.

Sy het daarmee ’n algehele tweede plek behaal. Sy het gekwalifiseer om internasionaal deel te neem aan die Stars of the Universe-kompetisie waar Talent Africa gasheer speel en haar familie, vriende en onderwysers is opgewonde om te sien wat sy by dié kompetisie, waar 15 ander lande deelneem, vermag.

Die TAK is ’n platform vir uitvoerende kunste wat hoë standaarde handhaaf en word gerugsteun deur die Federation of Performing Arts (FPASA) wat die kwalifisering vir provinsiale-, nasionale- en internasionale- kleure bepaal. Lieselotte, is ’n gr.11-leerder by Hoërskool Frikkie Meyer waar selfs haar onderwyser, Christie Brits, spot dat sy ná jare as kunsonderwyseres steeds verbaas raak oor wat sy by leerders soos Lieselotte leer.

Lieselotte Smit is ’n jong kunstenaar van Thabazimbi wat op 17-jarige ouderdom reeds kunskenners in verwondering laat. Dit is duidelik dat daar vir haar ’n blink toekoms voorlê.

Haar ma, Linda Grobler, vertel dat Lieselotte al van so jonk as drie jaar haar kreatiwiteit uitgeleef het.

“Lieselotte het van kleins af allerhande goed gemaak en geteken en sy het vroeg al baie mooi geverf,” vertel sy.

“Mense was altyd verbaas as hulle haar kuns gesien het en kon nie glo dat sy dit op haar eie gedoen het nie,” het Linda gesê.

“Haar kuns was nog altyd baie uniek. Sy volg nie altyd die reëls nie en dit is nie vreemd om haar te sien speel met allerhande vreemde media nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button