Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die Kerstyd lê vir baie inwoners soos ’n berg voor weens die ekonomiese knyptang waarin die land hom bevind. Die Pos het al dekades lank ’n kinderfondsrekening waarin ons geld spaar vir opheffing in ons gemeenskappe. Anneline du Preez, een van ons personeellede in Bela-Bela, het die afgelope twee weke onverpoosd gewerk om kospakkies vol noodsaaklikhede, asook lekker eetgoed, vir behoeftige gesinne te verpak. Hier staan sy by een van dié pakkies. Die Pos het ook die afgelope week ’n groot kontantbedrag uit die kinderfondsrekening aan Huis Talje, ’n tehuis vir gestremdes in die dorp, oorbetaal.
Die Warmbad VLU het op Dinsdag 30 November die personeel en inwoners van die Warmbad Rusoord vir Bejaardes verras met ’n paar nodige items. Hulle het geskenke aan die personeel gegee uit erkenning vir hul onbaatsugtige diens tydens die afgelope twee jaar se Covid-19-pandemie. Hulle het ook noodsaaklikhede soos seep en komberse vir die inwoners geskenk. Die VLU-vroue het die bestuur van Rusoord geloof vir hul harde werk en toegewydheid en hulle sterkte toegewens met die feestyd wat voorlê. Die foto is geneem tydens die VLU se besoek aan Rusoord.
Die Waterberg is tans lowergroen nadat sagte, deurdringende reën die afgelope paar weke oor groot dele van Limpopo uitgesak het. Dié foto is die afgelope naweek op een van die staproetes by die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord buite Bela-Bela geneem waar besoekers nie uitgepraat kan raak oor die natuurskoon en voëllewe nie.
Warmpatat: ’n Werknemer wat by die lisensiekantoor en toetssentrum in Modimolle werk, het vandeesweek hierdie trop van bykans 20 beeste afgeneem waar hulle in die sentrum se parkeerarea wei. Die betonmuur wat die terrein omhein is sowat ses jaar gelede beskadig toe ’n voertuig deur die muur gebars het. Die beeste wei intussen gereeld daar en hul wettige eienaar kon nog nooit opgespoor word nie. Inwoners wat in die ry gestaan het om hul lisensies te hernu, het tong in die kies gesê hulle hoop nie die trop beeste druk voor hulle in die ry in nie.
Warmpatat: Dit is hoe die substasie op die hoek van Vos- en Kerkstraat in Modimolle lyk. Die wankelende fondasie, wat nou deur sluipslapers as rommelhoop gebruik word, is reeds in Mei vanjaar onder die aandag van die plaaslike owerheid gebring, maar tot op hede is geen herstelwerk daar gedoen nie. Volgens inwoners dra die toestand van hierdie substasie by tot gereelde kragonderbrekings wat inwoners in wyk 12 van Modimolle ervaar.

Related Articles

Back to top button