Local newsNews

Skryfkompetisie-wenners aangewys

Die wenners van die jaarlikse dig- en skryfkompetisie wat deur Ink Skryf in Afrikaans aangebied word, is tydens ’n galageleentheid op Saterdag 13 November in Pretoria aangekondig.

Volwassenes en skoliere se gedigte, hetsy in vryvorm of ballade, elegie of sonnetstyl, asook kortverhale, is deur ’n onafhanklike paneel beoordeel.

Die wenners is deur Karen Zoid, sanger, liedjieskrywer en TV-aanbieder, en Jackie Nachtegaal, advokaat en bekroonde skrywer, gekies uit die beoordelaars se topvyf in elke afdeling.

Die Pos het met Anzé Bezuidenhout, stigter van Ink Skryf in Afrikaans, gesels oor haar liefde vir skryfkuns in Afrikaans.

“Ek het hierdie onafhanklike platform vir skryfwerk in Afrikaans ’n paar jaar gelede begin omdat ek gesien het geleenthede vir Afrikaanse dig- en skryfwerk op die internet is baie beperk.”

Bezuidenhout het verduidelik dat die doelwit van die kompetisie is om gehalte poësie en kortverhale in Afrikaans te bevorder en beskikbaar te stel aan die publiek in bloemlesings.

Die beste gedigte en kortverhale sal na afloop van die kompetisie in drie afsonderlike bundels opgeneem word: Inspraak Gedigte, Inspraak Kortverhale en Inspraak Skoliere. Andries Fourie van Pretoria is aangewys as die algehele gedigte-wenner in die volwasse afdeling.

Sy wengedig — Eindeloos, ’n elegie aan Carma — vertel die hartroerende verhaal van die afsterwe van ’n geliefde wat baie pyn en lyding moes ervaar.

Fourie het ook die prys vir Digter van die Jaar ontvang. Bertie Cloete, bekende digter van Kaapstad, was die algehele naaswenner.

Riaan Palmer, ook van Pretoria, is aangewys as Skrywer van die Jaar. Die algehele kortverhaalwenner in die volwasse afdeling is Yolandi du Plessis met haar kortverhaal getiteld “Weskus-sonsak”.

Die naaswenner is Lynelle Clark wat al bykans 20 van haar eie boeke gepubliseer het.

In die skoliere/student-afdeling is Olivia Lubbe as algehele gedigtewenner aangewys met Jenna Wilkenson as naaswenner.

Twana Nel van Thabazimbi se gedig “Miskien” is aangewys as afdelingwenner. Marianne Roos se kortverhaal, “’n Jaar daarna”, het met die louere weggestap en Mia le Roux was die naaswenner. Bezuidenhout het vanjaar ook twee van haar eie Afrikaanse gedigte ingestuur vir die “Poetry in McGregor-”kompetisie wat vanjaar vir die negende keer aangebied is.

Sy is een van die topveertienfinaliste in die volwasse-afdeling.

Die wenners word op Vrydag 19 November, tydens die Gedigtefees in McGregor aangekondig.

Hierdie klein dorpie in die Wes-Kaap het ’n groot hart vir die bevordering van die kunste — hetsy skone-, beeldende-, literêre- of uitvoerende kunste. Kranige skrywers en digters kan gerus Ink se webwerf, www.ink.org.za besoek vir meer inligting en inspirasie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button