Local newsNews

Reën bring groot verligting vir boere

Die eerste somerreën op die Springbokvlakte en in die Waterberg het groot verligting gebring ná die snikhete dae die afgelope tyd.

Boere in die Mookgophong-omgewing is dankbaar vir die sagte, deurdringende reën wat die afgelope naweek geval het en brullende trekkers kan oral op die landerye gesien word.

Volgens Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus Distrikslandbou-unie (DLU), was die neerslag redelik wisselvallig in die Tuinplaas/ Roedtan-omgewing.

Sommige plekke het tussen 28 mm en 34 mm gehad. By Blinkwater se kruising het sowat 50 mm geval en by Immerpan en Crecy 48 mm.

In die Marble Hall-omgewing het dit aansienlik minder gereën en sowat 20 mm is op sommige plekke gemeet.

Booysen het verder gesê die reën bring welkome verligting vir vee- en wildboere omdat weiding nou vinnig sal herstel.

“Ek dink ons is uit die moeilikheid met die beeste en die veld lyk ook goed vir die wild,” het hy aan Die Pos gesê.

Boere het reeds begin om katoen te plant op die ligter turfgrond wat vinniger nat word en sal binnekort ook sonneblom kan plant.

“Die swart turf moet nog eers ’n bietjie meer reën kry om nat genoeg te wees vir plant. Ons moet nog so 50 mm kry om voluit te plant.”

“Die pryse vir die twee gewasse wat die meeste op die Springbokvlakte verbou word, naamlik katoen en sonneblom, is plaaslik en internasionaal baie goed,” het hy gesê.

Volgens Booysen het die prys van sonneblomme op Maandag 22 November op R11 000 per ton gesluit wat ’n besonder hoë prys vir die huidige ekonomiese klimaat is.

Die insetkoste en veral die skerp styging in die dieselprys is egter ’n groot bron van kommer vir saaiboere. Hy het ook gesê gifstowwe het baie duur geword en boere sukkel om dit te bekom.

Booysen is egter baie optimisties oor die seisoen wat voorlê en het boere aangemoedig om die nuwe seisoen vol moed tegemoet te gaan.

Related Articles

Back to top button