Local newsNews

Jongmense rol moue op vir ’n goeie doel

Die uitdrukking lui: “Dit vat ’n hele gemeenskap om ’n kind groot te maak” en min mense verstaan dit so goed soos die groep vrywilligers van die Bome van Hoop-projek (BHP).

Die afgelope week het die BHP-vrywilligers besluit om saam met die Eagle Mountain Spur te werk om geld in te samel vir die kinders van Thabang Child and Youth Care Centre se marimba-groep.

Die groep wil graag nuwe uniforms aanskaf. Dié jong musikante is welbekend in Thabazimbi as ’n hardwerkende en talentvolle groep kinders wat al op verskeie verhoë regoor die land gehore in verwondering gelaat het met hul musiektalent.

Hulle het goue status verwerf met hul optrede en die groep het onder die topvyf in die nasionale ronde van vanjaar se Talent Africa-kompetisie geëindig.

Daarmee saam het die ensemble ook as wenners uit die stryd in die instrumentale afdeling getree.

Om dié groep by te staan het die BHP-vrywilligers en ses jong mense hul moue opgerol en op Dinsdag 15 November as kelners gewerk. Thabang se marimba-groep het self die aand ’n draai by die restaurant gemaak om die besoekers te vermaak met hul musiek.

Dit was nie lank voordat die gaste nie meer die ritmiese musiek kon weerstaan nie en op hul voete gekom het.

Talent Africa is vanjaar die gasheer vir die Stars of the Universe-kompetisie waar Thabang se marimba- groep binnekort teen deelnemers van 15 ander lande sal deelneem. Die uitslae sal teen middel Januarie 2022 beskikbaar wees.

Die BHP is besig om hul werksaamhede vir die jaar af te sluit en beoog om eersdaags die geel lappe, wat die afgelope paar maande regoor Thabazimbi om bome gebind is om hoop te verkondig, in te samel en daarmee verskeie kledingstukke te maak om aan minderbevoorregte mense in die dorp te versprei.

Related Articles

Back to top button