Local newsNews

Mookgophong-vroue bederf

’n Groep vroue is op Saterdag 6 November heerlik bederf met ’n spoggerige oggendtee by Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong.

Volgens Marina Gravett, hoof van die skool, was die “bederfoggend” die idee van Vicky-Lynn du Toit, een van die jong onderwysers by dié skool.

Kaartjies was spotgoedkoop, want die doel van die oggend was om vroue weer ’n geleentheid te bied om van hul sorge te vergeet, terug te sit en saam met vriendinne te ontspan met ’n heerlike koppie tee.

Die vroue is vermaak deur die pragtige sang van Yvette van der Wal, ook ’n onderwyser by Laerskool Eugène N. Marais en ’n groep dansers van ’n dansskool in die dorp.

Die 120 vroue het behoorlik gesmul aan die heerlike verversings en het hulle terdeë geniet.

Buite was daar stalletjies van plaaslike uitstallers waar die vroue na hartelus kon inkopies doen.

“Dit was so lekker om weer ’n bietjie as vroue saam te kon wees en sommer net te ontspan,” het Annelie Engelbrecht gesê. Die gasspreker was Marinda Aucamp wat met die gaste gesels het oor “Hoe hou ’n mens balans?”

Die vroue uit die gehoor het ook model gespeel en Aucamp het die nuutste modeneigings met hulle eie uitrustings vertoon.

“Dit het ’n mens sommer weer met nuwe oë na jouself laat kyk en besef dat elke vrou mooi in eie reg is,” het een van die gaste gesê.

Related Articles

Back to top button