Local newsNews

Die konsertinas sing weer in Leeupoort

Leeupoort-vakansiedorp net buite Thabazimbi het deur die jare bekend geword as ’n toevlug weg van die stad se gewoel en lawaai.

Dit is daar waar inwoners en besoekers van die stad kan rus en vrede in die Bosveld vind.

Inwoners van Leeupoort het egter die afgelope naweek die stilte verruil vir ’n naweek van heerlike samesyn waar almal tot laataand saam gesing en geskoffel tydens die gewilde Leeupoort-konsertinafees.

Liefhebbers van boeremusiek het oudergewoonte sommer wye draaie op die dansvloer gegooi en aan 25 van die land se boeremusiekorkeste erkenning gegee.

Inwoners van Leeupoort was in Mei deel van die geskiedkundige gebeurtenis toe ’n rekord aantal trekklavierspelers (altesame 30) gelyk op die verhoog opgetree het en ou gunstelingliedjies onder luide applous uitgevoer het.

Die afgelope naweek het 34 mondfluitjiespelers gelyktydig opgetree. Hulle het ook ou volkstreffers onder groot aanmoediging van die gehoor gespeel.

Die orkes van Laerskool Goudkop in Klerksdorp het die gehoor vermaak met hul puik uitvoering van bekende boeremusiektreffers. Willem Viljoen, seun van wyle Ollie Viljoen (’n legende in boeremusiekkringe) en aanbieder van RSG se gewilde boere- musiekprogram, Vastrap, het boeremusiek as hartsmusiek beskryf.

Dit het ook net weer duidelik geword tydens die naweek se jolyt dat Leeupoort se hart beslis vinniger klop op konsertinaklanke.

Stof af die dansskoene, want die mense van dié kontrei skoffel deur dagbreek toe.

Related Articles

Back to top button