Local newsNews

Mense maak hul harte oop vir skool

Verskeie markgangers en borge het op Saterdag 30 Oktober by die Ilnika-kontreimark buite Mookgophong hul harte en hande oopgemaak vir die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys in Modimolle.

Die inisiatief om ’n veiling ten bate van dié skool te hou was die idee van Yolande Liebenberg van Mookgophong.

Sy het die veiling wyd geadverteer en selfs van die motorfietsklubs het opgedaag om hand in die sak te steek en ’n ruim bydrae te lewer.

Die afslaers het ook hul dienste gratis aangebied. Sowat 40 items is opgeveil en het gewissel van kleinkoekies tot ’n kosbare olieverfskildery.

Een van die interessante items was die 1,4 m spitbraaikrokodil wat opgeveil is, asook ’n uitstappie na ’n krokodilplaas buite Mookgophong.

Een van die ouers van die Sonstraal-tehuis het ’n kragopwekker geborg.

“Ek was in Oktober baie besig om nog items vir die veiling te bekom en ook donateurs te kontak wat items beloof het. Ons is so dankbaar vir almal se vrygewigheid anders sou die veiling nie moontlik gewees het nie,” het Liebenberg gesê.

Meer as R22 000 is die oggend ingesamel. Die besondere skool vir leergestremdes bestaan al 25 jaar en het tans 20 leerders.

Daar is ook op 1 Februarie 2021 ’n tehuis vir verstandelik en fisiek gestremdes bo 18 jaar begin.

Volgens Hantie van Aardt, skoolhoof, is daar tans vier permanente inwoners by die tehuis en een dagbesoeker. Die tehuis kan egter uitgebrei word indien daar genoeg geld beskikbaar is sodat agt inwoners daar gehuisves kan word.

“Ons almal by die Sonstraalskool wil vir Yolande bedank vir haar bydrae. Sy het die veiling moontlik gemaak,” het Van Aardt gesê.

Liebenberg het haar dank uitgespreek teenoor elke borg, die afslaers, organiseerders van die mark en elke koper wat bereid was om hand in die sak te steek om die skool se help.

Related Articles

Back to top button