Local newsNews

Claudia verlig die nood van haweloses

Claudia Pita Ferreira het vroeër vanjaar die voorblaaie gehaal toe sy as finalis in die Mnr. en Mej. Waterbergdistrik-kompetisie 2021 aangewys is.

Dié 21-jarige skoonheid gebruik graag haar platform om mense in nood te help en daarom het sy besluit om haar gewig by die Thabazimbi Homeless Shelter (THS) te gooi.

Sy hoop om daardeur inwoners te inspireer om die lot van hawelose mense te verbeter.

Die afgelope paar maande het Claudia baie nou saam met die THS gewerk om bewusmaking vir die organisasie te kweek. Beverley Spira Kühn, verteenwoordiger van die THS, het aan Die Pos gesê dit is vir haar lekker om te sien dat jongmense in Thabazimbi saamstaan om hul gemeenskap op te hef.

“Om deel te wees van skoonheidskompetisie gee modelle ’n kans om ’n positiewe verandering in die maatskaplike welstand van hul omgewing teweeg te bring en daarom is ons baie dankbaar dat Claudia besluit het om by ons organisasie betrokke te raak,” het sy verduidelik.

Pita Ferreira het onlangs ’n draai by die THS gemaak om broodnodige voorraad te skenk.

“Dit is moeilik om te dink hoe organisasies soos die Thabazimbi Homeless Shelter dit regkry om elke dag kos en skuiling aan die haweloses van ons dorp te verskaf en daarom dink ek dit is belangrik dat oud en jonk in ons dorp weer begin fokus op die mense rondom ons.”

Liefdadigheid is vir haar veel meer as ’n skenking of bewusmaking — dit is ’n noodsaaklikheid.

Die Thabazimbi Homeless Shelter is ’n nie-winsgewende organisasie wat omsien na die welstand van die dorp se haweloses. Om meer uit te vind oor hoe om betrokke te raak, kan inwoners vir Beverley Spira Kühn bel by tel. 078 403 1813.

Related Articles

Back to top button