Local newsNews

Bosveldoord se inwoners word bederf

Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) het ’n welkome besoek aan Bosveld-oord in Thabazimbi gebring.

Die lede het harde werk opsy geskuif en lekker saam met die bejaardes gekuier.

Die SAVF is daagliks baie bedrywig met verskeie maatskaplike projekte wat ten doel het om die omstandighede van die dorp se inwoners te verbeter. Dié tak het die afgelope jaar minderbevoorregte gesinne gevoed en geklee, na bejaardes in die omgewing omgesien en aan verskeie fondsinsamelingsprojekte deelgeneem.

Een van die SAVF se gewildste projekte is om die bejaardes ’n bietjie te bederf en daarom het hulle op Donderdag 4 November ’n braai-en-kuier-dag vir die inwoners van die Bosveld-oord gehou.

Annali Connear, voorsitter van die SAVF-Thabazimbi, het gesê dit is vir hulle belangrik om dié soort projekte aan te pak omdat mense dikwels in hul haas vergeet van die sosiale verantwoordelikheid teenoor bejaardes in die dorp.

“Ons wil ’n verskil in ons omgewing maak. Dit is hoekom projekte soos hierdie nie agterweë moet bly nie.”

Die SAVF het vanjaar ook die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) betrek om die dag so spesiaal as moontlik vir die oord se inwoners te maak.

“Dit is vir die SAVF belangrik om die kulturele erfenis van ons dorp te beskerm en daarom werk ons gereeld saam met die ATKV om ons taal en kultuur te vier.”

Leerders van die Allo Kyki-kleuterskool het die bejaardes tydens die geselligheid vermaak met ’n sang-en-danskonsert.

Met die braaivleisvure wat gesellig geknetter het en die reuk van watertandlekker- boerewors oor die kole, het die SAVF en die ATKV dit reggekry om op dié dag vreugde in die lewe van die dorp se bejaardes te bring.

Hulle moedig ander inwoners aan om ook betrokke te raak by die wel en weë van die dorp en sy mense.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button