Local newsNews

Renaissance-inwoners se lewens keer stadig terug na ‘normaal’

Inwoners van die Renaissance-aftreeoord in Bela-Bela is stadig maar seker besig om weer aan sosiale aktiwiteite te begin deelneem.

Die afgelope jaar het groot uitdagings gestel aan die inwoners en die bestuur van dié aftreeoord. Besoekers en sosiale aktiwiteite kon sedert die verslapping van die Covid-19-maatreëls in Oktober hervat word.

Die bestuur van die oord het gesê hulle volg streng veiligheidsmaatreëls, want hul bejaarde inwoners is baie kwesbaar.

“Ons is dankbaar dat inwoners getrou by die Covid-19-maatreëls gehou het. Die effek van die isolasie wat met die Covid-19-pandemie gepaard gegaan het, sal seker eers later duideliker word. Veral alleenlopende inwoners het deur ’n moeilike tyd gegaan,” het Roedolph Botha, Renaissance-bestuurslid, aan Die Pos gesê

“Die oord het sedert Maart 2020 by al die protokolle gehou. Sosiale aktiwiteite het sedert einde Augustus vanjaar stadig begin hervat met aktiwiteite soos veerpyltjies waaraan kleiner groepe deelneem. Inwoners moet steeds maskers dra en wanneer hulle sosiale aktiwiteite bywoon, moet hulle saniteer en by die voorgeskrewe getalle per geleentheid hou. Sosiale afstande moet steeds gehandhaaf word.”

Hy het gesê die oord beoog ’n jaareindgeselligheid in November waar slegs 60 mense toegelaat sal word.

Ander aktiwiteite soos bingo, fisieke oefensessies, naaldwerk, veerpyltjies, potspel en snoeker is nou oopgestel vir inwoners.

Die boekwurms was baie verlig nadat die oord se biblioteekdeure weer vir hulle oopgesluit is en boeke weer uitgeneem kan word.

“Daar is tans geen beperkings op besoekers nie. Hulle temperatuur word steeds by die hoofhek geneem en hulle moet die register voltooi.”

Botha het gesê die nuwe bestuur sal einde November verkies word.

Related Articles

Back to top button