Local newsNews

Musiek en kuns herleef met teater

Musiekliefhebbers in die Waterberg slyp behoorlik hulle tande vir die opening van ’n volwaardige teater in Modimolle waar die klanke van klassieke musiek, opera, boeremusiek, asook kontemporêre musiek en “rock”, eersdaags sal opklink.

Die Pos het met Jurie Rehad (53), bestuurder en eienaar van die Kings-teater in Modimolle gesels oor die uitgebreide opknappings wat aan die gang is. Verdere opknappings word beoog om die teater tot sy volle reg te laat kom.

Rehad is ’n Waterberger in murg en been en het ’n liefde vir musiek en teater.

“Dit is ’n langtermynprojek met groot uitgawes om hierdie perseel in ’n volwaardige teater te omskep, maar ons is vol hoop dat die gemeenskap die musiek en kunste sal ondersteun sodat ons ’n sukses hiervan kan maak,” het hy gesê.

“Ek het self ingespring om die muurskilderye teen die twee symure aan te bring. Die tema is geskoei op die binnekant van ’n Viking-kasteel wat aansluit by die hoofverhoog se dekor.”

Die teater is sedert Augustus vanjaar oop vir die publiek as kuier- en dansplek waar ligte etes bedien word. Hierdie inkomste help ook om die pot aan die kook te hou terwyl opknappings aan die teater nog nie afgehandel is nie, het Rehad verduidelik.

Die gebou, wat in die 1950’s as bioskoop gebou is, behoort aan die Christoforides-familie wat talle ander sakepersele in Modimolle besit. Dit is oor die jare aan talle sakepersone uitverhuur.

Daar is gerugte dat die gebou eens op ’n tyd as bordeel bedryf is, maar niemand kan dit bevestig nie. Dit was vroeër ook ’n gewilde kuierplek met uitsluitlik kletsrymkunstenaars (“rap”) wat daar opgetree het.

Die teater beskik oor eindelose potensiaal omdat daar nie permanente ingeboude sitplekke is nie. Die tafels en stoele skep ’n ontspanne atmosfeer en kan rondgeskuif word na gelang van die soort konsert of geleentheid wat aangebied word. Daar is selfs die moontlikheid om die gedeelte by die agterste ingang as verhoog in te span, het Rehad gesê.

Bo die hoofverhoog is ’n tussenvlak (“mezzanine”) wat deel van die produksie kan vorm veral met operas of musiekteaterproduksies.

Vir informele konserte kan dit gebruik word as onthaalarea vir belangrike gaste en as kuierplek met die kunstenaars na afloop van die vertoning. Buitelugkonserte kan ook op die verhoog buite die agterste ingang gehou word.

Rehad vertel dat hulle iets soortgelyk as die “Oppikoppi-musiekfees” vir die nuwe jaar beplan.

Schalk Vorster (64), ’n bekende naam in operakringe, woon die afgelope vyf jaar in Modimolle. Toe hy verneem het van Rehad se planne om ’n volwaardige teater te skep, het hy dadelik ingestem om betrokke te raak as artistieke direkteur.

Vorster het tydens ’n onderhoud vertel “teater is in my bloed”. Hy het in sy sangloopbaan kennis gemaak met ’n uitgebreide netwerk van mense in die teater- en klassieke musiekbedryf.

“Hierdie netwerk sal nou ingespan word om gehalte kunstenaars na die Kings-teater te bring sodat inwoners nie telkens Gauteng toe moet gaan om ’n uitvoering by te woon nie,” het hy gesê.

Vorster se seun, Inus (28), is betrokke as klankingenieur en beligting. Hy sing en speel ook kitaar en het al in die teater opgetree saam met ander kontemporêre musiekkunstenaars.

Daar word beoog om ’n wye verskeidenheid kunstenaars en produksies te kies wat sal aanklank vind by musiekliefhebbers van alle ouderdomme.

Besoek gerus die Facebook-blad Kings Club of bel vir Jurie Rehad by tel. 082 507 3102 of Schalk Vorster by tel. 083 984 5841 vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button