Local newsNews

Bekende boer sterf ná fratsongeluk

Barend Pienaar (54), ’n bekende boer van Modimolle en aktivis teen plaasmoorde, het op Dinsdag 2 November in die hospitaal gesterf nadat hy op Woensdag 20 Oktober in ’n fratsongeluk op sy plaas gegly, agteroor geval en ’n ernstige kopbesering opgedoen het.

Inwoners van Modimolle was geskok toe sy vrou, Simoné, Dinsdagoggend vroeg die hartseer nuus op sosiale media geplaas het.

Huldeblyke stroom steeds in vir dié man wat landwyd diep spore in die boerderygemeenskap getrap het.

Volgens Simoné het Barend op Woensdag 27 Oktober vir die eerste keer sedert die voorval sy oë oopgemaak, maar hy was nie bewus van wat om hom aangaan nie. Hy was steeds onder verdowing en het ’n hoë infeksietelling gehad omdat hy intussen longontsteking ontwikkel het.

Dokters was teen Saterdag 30 Oktober tevrede met sy vordering en het die verdowing geleidelik verminder.

Aangesien die gesin nie ’n mediesefonds het nie, sou Pienaar na ’n staatshospitaal oorgeplaas word. Sy niere het egter teen Maandag 1 November só verswak dat hy aan ’n dialisemasjien gekoppel is.

Simoné het aan Die Pos gesê Barend was ’n dierbare mens en wonderlike eggenoot. Die egpaar sou later vandeesmaand hul derde huweliksherdenking gevier het.

“Barend het altyd gesê dat jy net iemand se ware karakter sien as die voordeur saans toegaan. Die res is vals en leeg. As ek aan een woord moet dink om hom te beskryf, is dit die woord regverdig,” het sy gesê.

“Hy was nooit onnodig moeilik nie. Hy het nie tyd gehad vir twak nie. Wat reg was, was reg. Hy het ’n gawe gehad om mense reg op te som.”

Volgens haar het Barend die klein dingetjies in die lewe waardeer en sy geskiedenis was sy trots.

“Die liefde vir sy volk en sy mense was groter as hyself. Geen taak of hulp was te klein of te groot nie. Hy kon nooit verstaan dat mense nie vir hulself kan opstaan nie. Dit is iets waaroor hy net sy kop geskud het.”

Barend was in die Waterberg-omgewing en in landboukringe bekend as uitgesproke aktivis teen plaasmoorde en -aanvalle. Hy was aktief betrokke by die landelike gemeenskap in die Modimolle-omgewing en het die Wasp-veiligheidsgroep hanteer.

Hy het sedert 2010 ’n toespraak by die Witkruis-monument, tussen Mokopane en Polokwane, gelewer tydens die jaarlikse kruisplant-seremonie wat slagoffers van plaasmoorde gedenk.

Hy het die afgelope 11 jaar op ’n plaas naby die Donkerpoortdam buite Modimolle met krokodille geboer.

Hy laat sy vrou, Simoné, en vier kinders uit sy eerste huwelik agter. Besonderhede van die gedenkdiens was teen druktyd nog nie bevestig nie.

  • Cornie Verwey, ’n familievriend van Modimolle, het ’n beroep op inwoners gedoen om te help om die sowat R260 000 in te samel om die privaat hospitaal se rekeninge te betaal.

    Weldoeners wat ’n bydrae wil maak, kan vir Verwey bel by tel. 082 876 3772.

Related Articles

Back to top button