Local newsNews

Beter kommunikasie tussen rade en landbousektor gevra

Die landbousektor hou die komende verkiesing (Maandag 1 November) met groot belangstelling dop.

“Boere het ’n wesenlike belang by plaaslike regerings. Boere betaal belasting, maar kry niks in ruil daarvoor nie,” het Henk van de Graaff, TLU SA Noordstreek-voorsitter, in ’n onderhoud met Die Pos gesê.

“TLU SA het die grondbelastingsaak van boere in die hof betwis en in die hooggeregshof gewen, maar die saak in die appèlhof verloor. Die regter het bevind dat boere aan plaaslike owerhede belasting betaal en nie heffings nie. Die wet bepaal dat die betaler op bepaalde dienslewering aanspraak kan maak wanneer heffings ter sprake is, maar nie wanneer belastings ter sprake is nie.”

Dit veroorsaak dat boere nie toegang het tot munisipale dienste soos byvoorbeeld die nooddienste of biblioteke nie.

Boere is ook vies omdat hulle op openbare paaie moet ry waarvoor hulle belasting betaal, maar die paaie word nie in stand gehou nie, het hy gesê.

“Munisipaliteite mag ingevolge die relevante wetgewing wel ’n persentasie afslag aan eienaars van landbougrond gee. Dit gebeur egter selde, want die landbousektor dra by tot die algehele inkomste van plaaslike owerhede,” het hy gesê.

“Droogtes, swak markpryse, stygende verpligte minimumlone en Covid-19-inperkings het alles ’n nadelige invloed op boere wat in baie gevalle eenvoudig net nie meer hul grondbelasting kan bekostig nie.”

TLU-lede is bekommerd oor die komende verkiesing omdat daar nie duidelike landboubeleide in plek is nie en boere dus uitgelewer voel aan die giere van hul plaaslike munisipaliteite, het hy gesê.

TLU SA was instrumenteel in die totstandkoming van die Agricultural Sector Unity Forum (ASUF). Dit sluit lede van TLU SA, Agri SA, die National African Farmers Union (Nafu) en African Farmers Association of South African (Afasa) in.

Dié forum kom byeen om gesamentlike landbousake te bespreek. Besluite word slegs deur ’n konsensus van lede geneem.

“As ons praat van plaaslike regering se sogenaamde landboubeleid, sluit dit alle boere in. Die verval in infrastruktuur raak klein of opkomende boere soms meer as kommersiële boere, want hulle is meer kwesbaar.”

Landelike veiligheid en arbeid is nie net nasionale aangeleenthede nie. Die Waterberg-distrik Landbou-unie (WDLU) is betrokke by die plaaslike landelike veiligheidsvergaderings en is gemoeid met arbeidskwessies.

“Ons sal graag wou sien dat daar beter kommunikasie tussen raadslede en georganiseerde landbou kom en dat landbou nie net as ’n bron van inkomste gesien word nie.”

Related Articles

Back to top button