Local newsNews

Slagoffers van kindermishandeling is kwesbaar

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle werk onverpoosd om kwesbare kinders te beskerm en aan hulle ’n veilige hawe te bied.

Dit word egter bemoeilik wanneer ernstige gevalle van mishandeling en molestering nie behoorlik aangemeld en hanteer word by polisiestasies nie.

Volgens die #SafeSpace-verslag wat op Donderdag 21 Oktober bekendgestel is, is ’n ondersoek ingestel om te bepaal of die protokol wat polisiestasies volg voldoende is om die kinderslagoffers van mishandeling of molestering by te staan.

Volgens Elize Sauer, woordvoerder van die kinderhuis en bestuurder van professionele dienste (waaronder maatskaplike dienste val), is daar groot frustrasie by die aanmelding van hierdie soort sake.

“Kinders word daagliks in ons land aan mishandeling blootgestel. Wanneer maatskaplike dienste of die polisie ingryp om kinders uit hierdie omstandighede te verwyder, is daar sekere protokol wat gevolg moet word. Hierdie omslagtige proses waaraan kinderslagoffers onderwerp word tydens die aanmelding, verklaring en mediese ondersoek, dra by tot hul traumatiese ervaring.

Kinderslagoffers en die betrokke maatskaplike werker moet tans saam met ander lede van die publiek in ’n aanklagkantoor wag om ’n klag te lê. Dit kan soms etlike ure neem voordat daar ’n dossier geopen word en die slagoffer na die sorgsentrum vir slagoffers geneem kan word om ’n verklaring af te lê.

“Die tyd wat verlore gaan tydens dié tydrowende proses het ’n negatiewe impak op die slagoffer, veral jonger kinders, se vermoë om genoegsame detail te onthou en weer te gee.

Lize Fouché, maatskaplike werker by die Rata-maatskaplike dienste in Modimolle, het tydens ’n onderhoud aan Die Pos gesê sy beaam die frustrasie met die aanmeldingsproses.

“Ek het al persoonlik ervaar hoe polisiebeamptes in die aanklagkantoor weier om ’n dossier te open omdat hulle die geldigheid van die aanklag in twyfel trek. Sommige slagoffers word weggewys by die polisiestasie wat beteken oortreders word nie krimineel vervolg en vasgetrek nie,” het sy gesê.

“Sonder die hulp van ’n maatskaplike werker wat die prosesse ken, is kinders in die gemeenskap uitgelewer aan die ontoereikende diens by polisiestasies,” het sy gesê.

“Hoewel die oorsake van mishandeling die belangrikste is, moet die samelewing se ondersteuning van slagoffers ook aangespreek word.”

Volgens die kinderbeskermingswet is dit verpligtend om kindermishandeling aan te meld, maar lede van die publiek wil dikwels nie betrokke raak nie omdat hulle nie in die hof wil getuig nie.

Sauer meen dat selfs mediese dokters (in die privaat sektor) baie keer “nie betrokke wil raak nie”.

Sy vertel dat slagoffers van beweerde seksuele- of fisieke mishandeling ’n mediese ondersoek moet ondergaan, maar dat hulle dikwels ure lank by openbare hospitale moet wag, veral op die platteland, omdat daar dikwels oor naweke of na-ure slegs een dokter aan diens is.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder van Modimolle, beskik dié polisiestasie oor ’n ondersteuningsentrum vir slagoffers op die perseel waarheen getraumatiseerde kinderslagoffers geneem word. Vroulike slagoffers van gesinsgeweld en fisieke- of seksuele aanranding word ook daarheen geneem.

Die vertrek het ’n tafel waar die slagoffer se verklaring afgeneem word, asook ’n bed en badkamer.

Findlay verduidelik wanneer slagoffers laataand by die stasie om hulp soek, hulle selfs in die sorgsentrum vir slagoffers kan oornag totdat daar met behulp van maatskaplike werkers plekke van veiligheid gevind word om hulle te huisves.

Beamptes ondergaan ook gereeld opleiding hoe om situasies met vroue en kinders met die nodige deernis te hanteer, het hy gesê.

  • Die kinderhuis se #SafeSpace-verslag stel talle voorstelle vir die verbeterings by polisiestasies voor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button