Local newsNews

Tuindag met groot geesdrif gevier

Die Waterberg is bekend vir sy kunstenaars waarvan Marinda Turvey van Tuinplaas een by uitstek is.

Sy het talle talente en vaardighede wat sy inspan om spogonthale op hul plaas en lodge, Tsekama, aan te bied.

Die viering van Tuindag in hul lushof het vanjaar alle verwagtinge oortref. Tuindag is vanjaar op Sondag 17 Oktober gevier en Die Pos het die dag saam met 220 ander tuinliefhebbers by die pragtige Tsekama van Willie en Marinda Turvey naby Tuinplaas geniet.

“Die dag was soos ’n vars briesie van vryheid ná die inperkings van die afgelope 18 maande. Ons is behoorlik uitgehonger vir kuiers in die buitelug,” het een van die gaste opgemerk.

Die gaste is vermaak deur die bekende en gewilde Afrikaanse kunstenaar, Joshua na die Reën. Hy is verras deur die groot gehoor en het aangekondig dat dit sy grootste konsert die afgelope jaar was.

Die vroue het met blomme in die hare opgedaag om die pragtige tuin van die Turveys te geniet.

’n Wye verskeidenheid plante was ook beskikbaar en elke gas het ’n pragtige kardoesie vol lekkernye as middagete ontvang.

Marinda is ’n oud-leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong en het ná skool kuns en ontwerp aan die destydse Pretoria Technikon gestudeer.

Sy het skaars ses maande later in die koerante gepronk met haar unieke kunswerke. Deel van haar studies was modeontwerp wat sy vir baie jare met groot vrug uitgeleef het. Sy is vandag nog alombekend vir haar uitsonderlike skeppings.

Sy en Willie is in 1984 getroud en daarna het sy “boervrou” op die Springbokvlakte geword. Dit is daar waar sy haar steeds uitleef in mode en kuns.

Sy het in 2003 die gaping in die mark gesien vir ’n onthaalplek waarna die pragtige Tsekama Lodge gebou is.

Dit is deesdae ’n gewilde troubestemming waar bruide op die hande gedra word terwyl hul gaste met keurige disse bederf word.

Related Articles

Back to top button