Local newsNews

SAVF-lede leer om uit die verlede ’n beter toekoms vir almal te bou

Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) staan al jare lank landwyd op die voorgrond van liefdadigheid- en welsynskwessies.

Plaaslike onderneem die groep vrywilligers van die SAVF-Thabazimbi ook talle projekte.

Annali Connear, president van die SAVF in Thabazimbi, het tydens die onlangse algemene jaarvergadering haar dank uitgespreek teenoor almal wat gehelp het om dié organisasie te ondersteun in ’n tydperk wat die Covid-19-pandemie ongekende uitdagings gestel het.

“Dit was ’n uitdagende jaar en 2021 het nuwe eise gestel. Hoewel ons sosiale afstande moes handhaaf en in afsondering moes bly, was die behoefte vir ondersteuning groter as ooit tevore,” het sy gesê.

“Ons moes inwoners wat swaarky se behoeftes agter maskers raak- sien en hulp verleen terwyl die land ingeperk was. Ons moes ook leer hoe om nuwe tegnologie te gebruik om hindernisse te oorkom.”

Connear het haar dank uitgespreek teenoor die SAVF se getroue ondersteuners en benadruk hoe belangrik dit is vir ’n organisasie soos die SAVF om ondersteuning van die dorp en sy mense te kry.

“Hoewel die maatskaplike dienskantoor slegs uit drie personeellede bestaan, kry hulle dit steeds reg om verskeie dienste in die Waterberg-distrik te lewer. Dié omgewing sluit in Thabazimbi, Leeupoort-vakansiedorp, Amandelbult, Dwaalboom, Koedoeskop en meer noord tot by Cumberland. Dit beteken dat die SAVF-Thabazimbi se bedieningsgebied oor ’n radius van 240 km strek wat waarskynlik die grootste in Limpopo is.”

Die SAVF moedig mense in nood aan om hulle te kontak vir ondersteuning en verwelkom ook gesinne wat afhanklik is van maatskaplike hulp.

“Die maatskaplike kantoor het tydens 2020 en 2021 dienste gelewer aan 8 743 individue en ongeveer 5 000 ander mense wat deel was van hul gemeenskapsprojekte,” het Connear verduidelik.

“Die finansiële verknorsing wat die Covid-19-pandemie in ons dorp veroorsaak het, het daartoe gelei dat werkloosheid gestyg het. Dit het mense se nood aansienlik verhoog.”

Sy het voorts gesê transformasie en verteenwoordiging van alle rasse op die bestuur en onder vrywilligers bly steeds ’n uitdaging, hoewel daar al volgens haar berge op die gebied versit is danksy die personeellede se positiewe ingesteldheid.

Talle maatskaplike staatsubsidies is gesny en daarom is die SAVF nou, meer as ooit tevore, afhanklik van donasies en die hulp van vrywilligers.

“Die SAVF-Thabazimbi werk streng volgens die finansiële beleid wat nasionaal voorgeskryf word. Ons bronne van inkomste is grootliks die departement van maatskaplike dienste, kerke en donateurs in die gemeentes en die Dr. Marie Luttig-trust,” het sy verduidelik.

“Vanjaar se uitgawes het R885 728 beloop en die inkomste wat ons ontvang het, was R767 401 met subsidies van R598 000.”

Die organisasie wil gemeenskapslede wat hul weg oopsien aanmoedig om meer betrokke te raak by die SAVF.

Related Articles

Back to top button