Local newsNews

Modimolle se Danny wen nóg ’n kompetisie

Danny Doman (26), talentvolle jong man van Modimolle, het die titel van ’n nuwe kompetisie naamlik Unseen International (South Africa) tydens die gala-aand op Saterdag 9 Oktober in Kaapstad verower.

Die Pos het in Julie vanjaar berig Doman het deurgedring na die finale ronde.

Die kompetisie, wat vir die eerste keer in 2020 aangebied is, poog om geslagsgelykheid te bevorder deurdat alle finaliste (mans en vroue) om een titel meeding. Dit is voorwaar ’n prestasie om as wenner aangewys te word, want Doman was die enigste man uit die agt finaliste.

Daar was twee finaliste elk uit Gauteng, Mpumalanga en die Oos-Kaap met net een finalis uit KwaZulu-Natal.

Die Unseen International South Africa-kompetisies is in Januarie 2020 deur Charina Joubert, voormalige finalis van die Mev. Suid-Afrika-kompetisie, bekendgestel. Daarmee saam is ook ’n model-akademie gestig met takke in Kaapstad, Johannesburg en Londen. V

olgens Joubert is die kompetisie se unieke konsep van geslagsgelyke deelname hul strategie om weg te breek van die modebedryf se vooropgestelde idees van uiterlike skoonheid en diskriminasie op grond van geslag.

Die kompetisie fokus op die versteekte skoonheid in elke deelnemer. Doman was in 2020 een van die toptiensemifinaliste van die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie.

Hy is betrokke by verskeie liefdadigheidsorganisasies soos Modimolle Victim Support Centre en die Abraham Kriel-kinderhuis. Hy is ’n jeugpredikant by die NG-gemeente Nylstroom-Oos en bedryf ’n modelskool en fotografiestudio.

Doman het aan Die Pos vertel hy het vir die kompetisie ingeskryf omdat hy voel jongmense benodig rolmodelle wat wys dat ’n mens jou doelwitte kan bereik met harde werk en toewyding.

“Ek voel baie sterk oor geslagsgelykheid, asook ’n gesonde, positiewe selfbeeld en liggaamsbeeld. Ek hoop om met die titel die weg te baan vir ’n nuwe generasie wat hulself kan liefhê en aanvaar net soos hulle is.”

Besoek gerus die webwerf, www.unseeninternational.co.za vir meer inligting oor die kompetisie.

Related Articles

Back to top button