Local newsNews

Gemeenskap se hulp gevra vir klein Kaylee

Kaylee Bezuidenhout (3) lyk op die oog af na ’n gelukkige klein dogtertjie wat graag saam met haar ousus, Melissa (4), met hulle babapoppe in die sandput speel.

Kaylee is egter gebore met ’n gesplete sagte verhemelte wat haar spraak aantas. Sy het ook ’n onderaktiewe skildklier wat ernstige langtermyngesondheidsgevare inhou.

Die Pos het met haar ma, Monika Cilliers (22), gesels oor die uitdagings wat hulle daagliks moet hanteer.

“Niks kon ons voorberei hierop nie, maar ons het al soveel geleer oor hierdie toestand en die toekomsmoontlikhede,” het sy gesê.

Die dogtertjies se pa, Justin Bezuidenhout, is ’n oud-Nylie en bou renmotors in Modimolle.

Cilliers werk as kleuterskoolonderwyser en is oorspronklik van Mookgophong waar sy in 2017 aan Hoërskool Hans Strijdom gematrikuleer het.

Die probleem met ’n gesplete sagte verhemelte is dat daar nie ’n kleintongetjie is wat die buisie wat die keel en neus verbind, afsluit wanneer kos en vloeistof ingeneem word nie. Alle vloeistof loop dus tot in die neusholte (sinus) en in die oortjies wat beteken Kaylee kry gereeld middeloorontsteking. Sy moes as baba van nege maande ’n ooroperasie ondergaan om pypies in te sit sodat die vloeistof wat in die middeloor opbou, kan dreineer.

“Toe Kaylee begin vaste kos eet, het sy gereeld verstik aan die groter stukkies kos wat in die opening vassit,” het Cilliers gesê.

Die grootste uitdaging is egter die spraakprobleme omdat kinders met ’n gesplete verhemelte nie klanke op ’n normale manier kan vorm nie.

Cilliers vertel: “Dit is net ek en haar ousus, Melissa, wat verstaan wat Kaylee sê.” Dit is hoekom dokters ten sterkte aanbeveel dat die verhemelte so spoedig moontlik geheg moet word sodat sy, met behulp van spraakterapie, die spraakagterstand kan oorbrug om skoolgereed te wees vir gr. 1 in ’n hoofstroomskool.

Cilliers vertel dat Kaylee net 10 maande oud was toe sy in April 2019 die eerste operasie moes ondergaan om haar verhemelte te probeer heg, maar dit was onsuksesvol, want die wond wou nie heg nie.

“Talle spesialiste en toetse later is Kaylee in Mei 2019 gediagnoseer met ’n aangebore onderaktiewe skildklier,” vertel haar ma. Die dokter het dadelik begin met hormoonbehandeling wat die skildklierfunksie vervang. Sy sal hierdie medikasie waarskynlik vir die res van haar lewe moet neem omdat haar siekte veroorsaak dat sy daarsonder probleme sal ondervind met die regulering van liggaamstemperatuur, die afskeiding van groeihormone, skeletvorming, hartslagtempo en verskeie ander toestande.

Mense met hierdie toestand is gewoonlik ook baie traag en lomerig weens lae suurstofvlakke.

Die kwotasie vir die operasie om die sagte verhemelte te heg beloop meer as R130 000.

Haar ma het aan Die Pos verduidelik dat geen mediesefonds Kaylee se operasie wil dek nie omdat die risiko’s te groot is.

“Daar was wel een maatskappy wat dit sou dek, maar die maandelikse lidmaatskap vir Kaylee sou bykans R7 000 wees wat ons nie kan bekostig nie,” het Cilliers gesê.

Die gemeenskap se hulp word daarom gevra met verskeie fondsinsamelingsprojekte om Kaylee se operasie, wat hopelik in Desember vanjaar kan plaasvind, te befonds.

Die volgende fondsinsamelingsgeleentheid is ’n rugbydag op Saterdag 6 November waar leerders van alle skole kan deelneem. Dit vind vanaf 09:00 by Laerskool Nylstroom plaas met spesifieke sessies wat vooraf bevestig word. Navrae moet per SMS gestuur word na tel 082 308 6497.

Daar word ook ’n gholfdag vir einde November by die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle beplan. Die details sal eersdaags bevestig word.

Barmhartige Samaritane kan vir Cilliers bel by tel. 079 224 5054 of e-pos stuur na monikacilliers@gmail.com(.) om betrokke te raak.

Related Articles

Back to top button