Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die kenmerke bloupers jakarandabloeisels wat oordadig in Oktober blom, tooi ook die strate van Modimolle en Bela-Bela — net soos dié van Pretoria. Die eerste jakarandabome is volgens geskiedskrywers in 1888 deur JD Celliers in Pretoria geplant. Die lote is glo meer as 50 jaar vantevore vanaf Brasilië ingevoer waar dit volop groei in Sentraal- en Suid-Amerika. Omdat dit ‘n baie geharde boomsoort is, is dit orals langs die stad se strate geplant. Dié pragfoto is aan die onderpunt van Collinsstraat in Modimolle geneem. Die groot jakarandabome om die stadsaal en plaaslike munisipaliteit se geboue is reeds meer as 50 jaar oud. Foto: Sarita Kriek-Vosloo
Warmpatat: Hierdie enorme gat in die sypaadjie, waar die sementblokke bo-oor ‘n stormwaterafvoergat stukkend gery is, is enkele meter van die ingang na die Susan Strijdomskool in Kerkstraat, Modimolle. Bekommerde ouers is besorg oor die veiligheid van leerders wat hierlangs skool toe stap. Die foto toon duidelik dat sommige van die sementblokke redelik nuut is omdat dit vroeër vanjaar vervang is. Volgens inwoners hou daar gereeld swaarvoertuie op hierdie deel van die sypaadjie stil. Hulle vra dat die plaaslike owerheid groot sementpiramides of blokke weerskante van die stormwaterafvoergat plaas sodat vragmotors dit nie kan beskadig nie. Foto: Verskaf
Jaco en Marilie Meyer, bekende inwoners van die Waterberg, het op Saterdag 18 September die knoop deurgehaak op die Mount Aqua-landgoed net buite Mookgophong. Die egpaar gaan hul in Roedtan vestig op die Meyer-familieplaas waar Jaco voltyds boer. Marilie, voorheen Niemann, het in 2014 aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer en werk as bestuurder van die VKB-tak op Roedtan. Foto: Jolandie Pheiffer
Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Nylstroom-tak het die nuwe lede wat die afgelope jaar by hul aangesluit het, baie welkom laat voel tydens ’n spesiale geselligheid op Donderdag 14 Oktober. Op die foto is sewe van die elf nuwe lede wat die geselligheid by Metsi Metsi, net buite Modimolle, bygewoon het. Voor staan Marie Kemp, Jana Schalekamp en Annemarie Snyman. Agter staan Marie du Preez, Marina Boshoff, Helena Venter en Annemarie Boshoff.

Related Articles

Back to top button