Local newsNews

Dorp geruk deur jong man se dood

“As die lewe begin druk, is daar net een ding wat jy kan doen: glimlag en weet die son sal weer opkom.”

Só het die 24-jarige Johan Niemann volgens sy familie geleef — met oorgawe en ’n positiewe houding en daardie kenmerkende wye glimlag op sy gesig.

Niemann wat as jong man reeds diep spore in die dorp getrap het, se onverwagse dood het Thabazimbi-inwoners geruk.

Niemann is op Sondag 17 Oktober dood by sy huis aangetref. Volgens ’n familielid dui voorlopige ondersoeke daarop dat hy aan natuurlike oorsake gesterf het. Niemann was ’n passer en draaier by die Northam Platinum-myn.

Hy het saam met sy familie as jong seun van Middelburg in Mpumalanga na Thabazimbi verhuis en sy skoolloopbaan in Thabazimbi voltooi. Niemann het op skool uitgeblink in atletiek en was ook ’n belowende rugbyspeler, maar moes ná ’n besering sy rugbystewels ophang. Dit het egter nie ’n demper op sy sportgeesdrif geplaas nie.

Hy het aan verskeie bergfietswedrenne deelgeneem, maar motorsport was sy groot liefde. Dit was ’n liefde wat hy gedeel het met sy jare lange vriend en vertroueling, Flippie Botes.

Chanté Nelson, sy lewensmaat, het aan Die Pos gesê: “Johan was gek oor karre. “Karre bou, karre regmaak, karre mooimaak en karre jaag.”

Sy het met deernis vertel dat hy ’n aansteeklike glimlag en ’n besonder fyn sin vir humor gehad het. Hy het liefde en meelewing uitgestraal.

“Johan het mense ondersteun,” het Nelson vertel. “Hy sou sonder om te huiwer in die middel van die nag Durban toe ry om iemand te help.”

Volgens Nelson was hy baie lief vir die natuur en die Bosveld het vir hom ’n spesiale bekoring ingehou.

Hy het dikwels saam met sy pa en oom gaan visvang.

“’Visvang was in sy bloed. Sy pa, Johan, en peetpa, oom Willem, is self baie lief vir visvang en daarom het Johan bykans met ’n visstok in die hand grootgeword.”

Petrus Jakobus (Johan) Niemann word oorleef deur sy ouers, Johan en Nina, en sy ouer suster, Elzani Kleynhans en sy lewensmaat Chanté.

Sy dood laat ’n groot leemte in die dorp, maar sy nalatenskap sal voortleef in die harte van sy geliefdes.

Niemann se begrafnis vind op Vrydag 22 Oktober in sy geboortedorp plaas. Daar sal later ’n roudiens in Thabazimbi gehou word.

Related Articles

Back to top button