Local newsNews

Bekende boorman onverwags oorlede

Josef Joubert (81), ’n bekende boorman van Bela-Bela, het op Dinsdag 19 Oktober sy stryd teen kanker verloor.

Joubert is volgens sy familie in die Warmbad Rusoord oorlede waar hy kort voor sy dood opgeneem is.

Die Pos het in 2012 oor Joubert berig nadat hy in ’n ernstige voertuigongeluk buite Mookgophong betrokke was. Sy een been moes ná die ongeluk geamputeer word.

Sy familielede het daarna sy booronderneming help bestuur. Joubert is in 2014 met velkanker gediagnoseer en hy moes verskeie veloorplantings kry wat sy gesondheid erg geraak het.

Hy is die afgelope tyd met deernis deur sy gesin versorg. Joubert het in die destydse Nylstroom grootgeword en skoolgegaan waarna hy hom as ’n boorman bekwaam het. Hy was 65 jaar lank by die sink en instandhouding van boorgate betrokke.

Joubert en sy vrou, Elsa, is in 1962 getroud en het vanjaar hul 59ste huweliksherdenking gevier.

“Hy was ’n goeie man vir ons ma en ’n liefdevolle pa vir ons kinders. Hy was baie hardwerkend en sy deur was altyd oop vir sy familie en vriende. Hy het ons altyd bygestaan. Hy was ons mentor,” het ’n familielid aan Die Pos gesê.

Joubert se roudiens vind op Saterdag 23 Oktober vanuit die Nuwe Lewe-aanbiddingsentrum in die dorp plaas.

Hy laat sy vrou, Elsa, kinders Johannes Jakobus Joubert, Alida Pienaar en Josef Joubert jnr. agter.

Hy laat ook twee kleinkinders, Elsa Kiefer en Josef Joubert, agter.

Related Articles

Back to top button