Local newsNews

Oord vir bejaardes kry swaar

Die Residentia-aftreeoord in Modimolle gaan gebuk onder erge geldelike druk weens die gevolge van die Covid-19-inperkings en ander ekonomiese uitdagings.

Die Pos het met Liz Breitenbach, bestuurder van die oord, gesels oor die uitdagings wat hulle daagliks in die gesig staar.

Heelwat inwoners in die Residentia-oord ontvang slegs ’n staatspensioen en is afhanklik van openbare mediese dienste omdat hulle nie oor privaat mediesefondse beskik nie.

Hoewel die aftreeoord namens hierdie inwoners by die departement van sosiale dienste kan aansoek doen vir ’n subsidie, is dit ’n minimale bedrag wat nie naastenby hul maandelikse uitgawes dek nie, het sy gesê.

Volgens Breitenbach was daar ’n drastiese afname in inwonergetalle by die versorgingseenheid sedert die eerste grendeltyd in Maart 2020 aangekondig is.

“Waar ons voorheen amper 70 inwoners in die versorgingseenheid gehuisves het, is daar nou bykans net die helfte.”

Die afname word grootliks toegeskryf aan die finansiële las op families wat dit eenvoudig net nie meer kan bekostig nie. Die ander uitdaging is dat besoeke aan die versorgingseenheid opgeskort is tydens vlak vyf, vier en drie van die grendeltyd om die inwoners te beskerm.

Dit het natuurlik beteken dat families maande lank nie hul geliefdes kon besoek nie waarna ’n hele aantal families besluit het om eerder hul geliefdes tuis te versorg.

Volgens Breitenbach was die opskorting van besoeke noodsaaklik en doeltreffend omdat daar vanjaar nog geen Covid-19-gevalle onder inwoners was nie. Besoeke tydens vlak twee en een word wel toegelaat.

Die Johannes Postma-woonstelle, wat deel van die aftreeoord vorm, huisves tans 38 bejaardes wat onafhanklik en selfversorgend is.

Hierdie inwoners kan daagliks ’n bord gesonde kos vir middagete teen slegs R40 per ete geniet.

Breitenbach vertel dat hulle geseënd was met heelwat skenkings uit die Waterberg-gemeenskap.

Een van die slaghuise in Modimolle het vars vleis geskenk en verskeie boere het varsprodukte en ander donasies gegee.

Daar was selfs ’n apteekgroep wat in September toiletware aan inwoners geskenk het.

“Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe die gemeenskap ons belange op die hart dra,” het sy gesê.

Die finansiële druk is egter steeds erg en daarom vra hulle steeds die gemeenskap se volgehoue ondersteuning.

Barmhartige Samaritane kan die aftree-oord kontak by tel. (014) 717 1370 om betrokke te raak.

Related Articles

Back to top button