Local newsNews

’n Lushof van amarilla-blomme op die Springbokvlakte

Dr. Piet Prinsloo en sy vrou, Lydia, woon sedert 1996 op die plaas Haakdoringkuil buite Mookgophong.

Hulle is nie net bekende boere van die omgewing nie, maar het ’n besondere voorliefde vir blomme en veral clivias (bosleslies) en amarillas.

Agter die ysterhekkie by die Prinsloo’s se huis, word ’n mens verwelkom deur ’n lushof van groen grasperke groot bome en ’n plaat blomme wat byna jou asem wegslaan.

Die blommeprag is ’n see van kleur wat wissel van donkerrooi tot ’n sagte wit.

“Ek het so vier jaar gelede ’n amarilla-plant as geskenk gekry en dit later uit die pot na die tuin verplant. Dié plant het gegroei tot ’n stokperdjie en lushof van kleurskakerings,” het Lydia met ’n armvol rooi amarilla-blomme vertel.

Volgens Piet is dit maklik om die plante te laat vermeerder. Hy het aan Die Pos verduidelik dat die blomkelk se stuifmeeldrade en stamper mooi uitstaan, wat bestuiwing vergemaklik.

“Ek vat sommer die stuifmeel so tussen my wysvinger en duim en smeer dit oor die stamper. Die geel stuifmeel wat op die stuifmeeldrade is sodra die plant blom, is die beste vir bestuiwing en om die verskillende kleure te kry,” het hy geesdriftig vertel.

Nadat die blom dood is, word daar ’n knop gevorm wat oopbars sodra dit ryp is. Dit bevat ongeveer 100 swart saadjies wat geplant word om bolle te vorm.

Piet het gesê die plante kom sommer “soos koring” op en ná vier jaar begin dit blom. Dit is plante wat floreer in bakke en blom welig. Amarilla-snyblomme is egter baie sensitief en die kroonblare beskadig maklik, maar as ’n mens versigtig werk met die sny van die blomme sal dit die moeite werd wees en baie lank in water vars bly.

Saai die sade in bakke en binne ’n jaar vorm ’n klein bolletjie, is sy raad. Ná vier jaar kan ’n mens tot 20 bolle hê van die oorspronklike bolletjie wat weer verdeel en uitgeplant kan word.

“Ek glo nie aan chemiese bemesting nie. Ons gooi beesmis in die rye tussen die plante en die plante neem dit op deur die grondwater,” het Piet verduidelik.

Piet het op ’n klein plasie in Kameeldrift -Oos buite Pretoria groot geword en aan Hoërskool FH Odendaal gematrikuleer.

Ná sy weermagopleiding het hy medies aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en in patologie gespesialiseer. Hy was later ook professor by dieselfde universiteit en het die universiteit in 1983 verlaat om ’n privaatpraktyk saam met vyf ander dokters te begin. Dit staan bekend as Du Buisson en vennote.

Lydia is opgelei as tandheelkundige assistent. Piet het die praktyk verlaat toe hy in 1996 vyftig jaar oud geword het en daarna die plaas gekoop waar hulle tans bly en met beeste, skape, sitrus en pekanneute boer.

  • Amarilla-plante is ’n genus wat aan die familie Amaryllidaceae behoort. Die genus bestaan uit slegs twee spesies, albei inheems aan Suid-Afrika. Dit groei in die winterrëenval streek. Daar is ook meerjarige plante en geofiete (bolplante). Amaryllis Belladonna is ook deel van die fynbos.

Related Articles

Back to top button