Local newsNews

Ina Bonnette: Van trauma tot oorwinning

Ina Bonnette, bekende sakevrou van Modimolle, het op Woensdag 29 September die eerste uitgawe van haar boek oor haar reis van tragedie tot hoop ontvang.

Dié boek is in haar eie woorde geskryf en handel oor haar verhaal van stryd en oorwinning nadat haar eksman, Johan Kotzé (wat later in die media as die Modimolle-monster gedoop is) haar marteling in Januarie 2012 georkestreer het.

Kotzé het Bonnette destyds na sy huurhuis in Kerkstraat in Modimolle gelok waar sy oorval, vasgebind, gemartel en daarna deur drie ander mans, Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka, verkrag is.

Kotzé het die marteling aanskou en ook haar seun, Conrad (toe 19 jaar oud) koelbloedig in die huis doodgeskiet terwyl Bonnette dit moes beleef. Danksy wakker gemeenskaplede en polisiebeamptes het al die verdagtes agter tralies beland en is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Nou, nege jaar later, het Bonnette besluit om ’n boek te skryf met waarskuwings aan mense om nie in dieselfde situasie te beland nie.

“Hy was die jagter en ek die bokkie, maar ek was verlief. Die oomblik toe daardie trouring aan my vinger gesteek is, was dit ’n geveg om oorlewing,” het sy aan Die Pos gesê tydens haar boekbekendstelling op Saterdag 9 Oktober by PNA in Bela-Bela.

“Dit het my nege jaar geneem om die boek te skryf. Soms wil ek alles vergeet wat gebeur het, maar daar was ook mooi dinge wat sedert die voorval in my lewe gebeur het.”

“Een van die eerste gevaartekens wat ek nie raakgesien het nie, was om my van my naastes te vervreem. Hy het my hele ondersteuningsbasis van my weggehou sodat ek myself minderwaardig geag het en nie meer in my eie vermoë geglo het nie,” het sy vertel.

Sy het gesê sy het die emosionele trauma in haar lewe hanteer deur al haar seer vir die Here te gee.

“Daardie dag, terwyl ek in daardie kamer vasgebind gelê het, het ek aanhoudend gebid tot die Here en gesê indien dit Sy wil is dat ek oorleef, ek Hom sal dien. Ek het ook besef daar is nie ’n môre wat aan my en ander gewaarborg is nie en daarom leef ek sedertdien elke dag voluit.”

Sy het vertel dat gebed en bemoedigende boodskappe en ondersteuning van haar naastes, en ook vreemde mense (selfs van oorsee), haar daagliks deur die hofsaak gedra het.

Sy beplan om in die toekoms motiveringspraatjies te hou en haar boek verder te bemark.

“Daar is so baie seer daar buite, maar ek volstaan met wat ek glo: Môre is beter as gister.”

  • Bonnette se boek is deur Lapa-uitgewers gepubliseer en is by alle groot boekwinkels beskikbaar. Gaan kyk ook op YouTube na die inspirerende musiekvideo van die sanger, Jacques Nel, wat die liedjie Gesig in die wolke spesiaal vir Conrad geskryf het.

Related Articles

Back to top button