Local newsNews

Goeie nuus vir viervoetvriende

Daar word dikwels na troeteldiere as “die mens se beste vriend” verwys, maar die werklikheid is dat daar steeds talle diere is wat daagliks mishandel of afgeskeep word.

Magda Stewart, verteenwoordiger van die Thabazimbi Animal Rescue (TAR), glo troeteldiere is nie net nóg ’n toevoeging tot iemand se erf nie, maar deel van die familie.

“Mense besef nie watter groot verantwoordelikheid diere is nie,” het sy vertel toe Die Pos by haar besoek afgelê het.

“Vir baie van ons is ons diere soos ons kinders, maar ongelukkig is daar mense wat nie besef dat dit ook ons verantwoordelikheid is om hulle te beskerm nie.”

Volgens Stewart word TAR daagliks gekonfronteer met situasies waar mishandelde en verwaarloosde diere by hul eienaars verwyder word en dié probleem raak al hoe erger.

Daar is voorts talle diere-eienaars wat bloot nie oor die regte hulpbronne beskik om ordentlik na hul troeteldiere om te sien nie en daarom het ’n groep vrywilligers van die Thabazimbi Bome van Hoop-projek (BHP) besluit om saam met die Medivet Dierekliniek te werk om die lewe van talle Thabazimbi-troeteldiere te vergemaklik.

Diereliefhebbers het die afgelope naweek van regoor die dorp by Pondok-koffiewinkel bymekaar gekom vir ’n dag van dierevriendelike familiepret om geld in te samel om die projek van stapel te stuur.

“Die doel van die projek is om nuwe halsbandjies aan te skaf. Ons moedig almal wat ’n bydrae wil lewer aan om ’n draai te maak by Medivet en ’n nuwe halsbandjie, of selfs ’n paar rand, te skenk vir die projek,” het Liza Yssel, verteenwoordiger van die BHP, verduidelik.

Related Articles

Back to top button