Local newsNews

Die Oog in Mookgophong hou weer gewilde jaarlikse makietie

Die inwoners van Die Oog Aftree-landgoed buite Mookgophong het die afgelope naweek weer makietie gehou nadat die jaarlikse “Die Oog-fees” nie in 2020 kon plaasvind nie weens die Covid-19-pandemie.

Die fees duur gewoonlik ’n week en daar is baie stalletjies, maar dit is vanjaar beperk tot Saterdag 2 Oktober en is as ’n mini-fees gehou.

Volgens Hester Meyer, voorsitter van Klub Vlytige Voete (KVV) by die oord wat die fees jaarliks reël, word die geld gebruik om die oord se tuine en terrein op te knap.

Hulle kon vanjaar nie meer as 25 stalletjies huisves nie. Die stalletjies het gewissel van ’n stalletjie waar smullekker kolwyntjies deur die VLU se Naboomspruit-tak verkoop is tot ’n uitstalling van spogklere.

Daar was wynstalletjies en ander het worsbroodjies verkoop.

Die geld wat beskikbaar was, is vanjaar gebruik om pragtige beddings voor die eetsaal te maak en die toiletgeriewe is ook opgedollie.

Meyer en haar man woon die afgelope drie jaar in Die Oog. Hulle was 27 jaar lank inwoners van Mafikeng in Noordwes. Sy was ’n onderwyser en geniet nou haar aftrede.

“Die mense hier is ongelooflik. Hulle het ’n sterk verbintenis en gee om vir mekaar,” het sy gesê.

Sy het die hoop uitgespreek dat daar in 2022 weer ’n “groot” fees aangebied kan word.

Related Articles

Back to top button