Local newsNews

Wie het brand gestig by hoewes buite dorp?

Brande het in die vroeë oggendure van Maandag 27 September die inwoners en brandweerdienste in die Noodhulp- en Roodepoort-omgewing buite Bela-Bela op hul tone gehad.

Voorlopige ondersoeke dui daarop dat brande teen ongeveer 04:00 die oggend al langs die R516-pad tussen die Hartenbos-kwekery tot teenaan die dorp, waar ander kwekerye ook geleë is, uitgebreek het.

Verskeie eiendomme en lewende hawe is deur die vlamme bedreig en die nooddienste het bontgestaan om die brand te beheer.

Paul Mathews, voorsitter van die Roodepoort-buurtwag, het by navraag gesê daar was die oggend bewerings dat ’n verdagte rotse in die teerpad geplaas het. Kort daarna het ’n minibustaxi se bande onklaar geraak weens die rotse op die padoppervlakte en moes die bestuurder noodgedwonge stilhou.

“Dit is vir my vreemd dat die brande uitgebreek het kort nadat die taxi se passasiers in die rigting van die dorp begin beweeg het. Dit bly ’n raaisel,” het hy gesê.

“Ons kon vasstel dat geen diere of geboue in die slag gebly het nie. Die Noodhulp-buurtwag, ons eie lede, die polisie, lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en brandweerdienste se reaksie was vinnig en saam kon ons die vlamme onder beheer bring,” het Mathews gesê.

’n Saak van brandstigting is intussen aanhanging gemaak.

Beeldmateriaal van veiligheidskameras in die gebied het ’n verdagte man getoon wat in die omgewing van Peet se Padstal opgemerk is.

Op die beeldmateriaal kan daar gesien word hoe die man ’n sigaret aansteek, maar nie die presiese oomblik dat die brand gestig is nie.

Die polisie ondersoek die saak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Related Articles

Back to top button