Local newsNews

Plaaslike filmmaker ondersteun jong kunstenaars

Suid-Afrika se filmbedryf het ’n ryk geskiedenis wat dateer uit 1896 toe Suid-Afrikaners vir die eerste keer na ’n reeks 30-sekonde films (sonder klank) met be-hulp van ’n filmprojektor kon kyk. Dit was die begin van die “bioskoop”, soos dit destyds bekend gestaan het.

Die eerste film met ’n klankbaan, genoem “talkies”, was Joseph Albrecht se “Sarie Marais en Moedertjie”, wat in 1931 in die Capitol Teater in Pretoria vertoon is.

In dieselfde jaar is die eerste klankadvertensiefilm vir Joko-tee gemaak. Nou, 90 jaar later, is die filmbedryf meer gewild as ooit en kan selfs amateurs met behulp van digitale tegnologie kortfilms maak.

Edward Masingi (34), gebore en getoë in Modimolle, is ’n amateurfilmmaker en -fotograaf wat sedert 2010 kortfilms oor aktuele onderwerpe maak.

Om die pot aan die kook te hou neem hy ook foto’s en video’s by troues en ander sosiale geleenthede.

Kort nadat hy matriek in 2006 voltooi het, het sy ma gesterf. Dit was nie vir hom moontlik om in te skryf vir enige naskoolse kursusse nie en hy het as veiligheidswag by verskeie plekke in Modimolle gewerk.

Hy is in 2009 betrek by die LoveLife-leierskapsprogram waar hy onder meer opleiding ontvang het in basiese projek- en finansiëlebestuur, asook basiese HIV/vigs-voorligting.

Vir die volgende paar jaar het hy voorligting aan jongmense gegee tydens jeugkampe en uitreikprojekte oor kwessies soos tienerswangerskap, HIV/vigs, dwelm- en drankmisbruik. Dit is daar waar sy passie om met jongmense te werk, aangevuur is.

Nog ’n gemeenskapsprojek gemik op jongmense was die opelug bioskoop in Mandela Park in Modimolle waar daar elke Saterdag gratis vertonings gehou is ter ondersteuning van plaaslike filmmakers en kunstenaars. Die bioskoopvertonings is ongelukkig in 2020 gestaak weens die Covid-19-grendeltyd, maar sal binnekort weer voortgaan.

Masingi het in Februarie vanjaar ’n treffende dokumentêre film, “Behind closed doors”, vrygestel wat handel oor geslagsgeweld en mishandeling. Hierdie film is benoem in die toptienkategorie tydens die Limpopo-amateurfilmfees.

Sy volgende kortfilm, “Xenophobia”, word waarskynlik einde vanjaar vrygestel. Hiermee wil hy die mites, wanpersepsies en diskriminasie teenoor buitelanders aanspreek.

Masingi wil jongmense aanspoor om hul drome na te volg, ten spyte van hindernisse en uitdagings.

Sy mediaproduksiemaatskappy bied geleenthede vir jong kunstenaars om hul talente ten toon te stel of agter die skerms betrokke te raak met die werkswyses van ’n produksiemaatskappy.

Modimolle se kultuurerfenis en kunstenaars lê hom na aan die hart en hy poog om brûe te bou tussen die uiteenlopende gemeenskappe in die Waterberg.

Inwoners kan gerus na sy kortfilms op YouTube kyk.

Related Articles

Back to top button